ADVERTISEMENT:

 

Mnr. Billy Brooks wys waar een van die skote teen die stutpilaar van sy voertuig vasgeslaan het.

Polisiebeampte brand los op sekuriteitsman

 

News  Date: 22 February 2008

 

Die Suid-Afrikaanse Polisiediens kon vandeesweek geen kommentaar lewer op pertinente vrae rakende die optrede van ‘n polisiebeampte, wat die afgelope naweek op Levubu verskeie skote in die publiek, asook by die polisiestasie, op ‘n plaaslike sekuriteitsbeampte gevuur het.

"Die Onafhanklike Klagtedirektoraat het die hele ondersoek oorgeneem en dus kan ons nou nie meer kommentaar op die voorval lewer nie. Ek kan egter bevestig dat sake van poging tot moord en aanranding met die doel om ernstig te beseer, geopen is," was die reaksie van provinsiale polisiewoordvoerder Supt. Ronel Otto.

Die skietvoorval het Saterdag (16de) omstreeks 18:00 voor die Spar op Levubu plaasgevind. Dit het gevolg na ‘n woordewisseling en worsteling tussen ‘n plaaslike polisieman wat van diens af was, konst. Maluleke, en sekuriteitsbeampte mnr. Billy Brooks. Die argument het ontstaan nadat Brooks vir Maluleke versoek het om sy voertuig se musiek sagter te sit aangesien dit steurend was.

Dit word beweer dat Maluleke, wat in siviele drag geklee was, ná die worsteling vier skote met sy dienspistool op Brooks geskiet het toe Brooks probeer het om met sy voertuig polisiestasie toe te jaag. Een van die skote het Brooks, wat ook van diens af en ongewapen was, se kop rakelings gemis en die stutpilaar binne sy voertuig getref. By die polisiestasie aangekom, het Maluleke na bewering weer ‘n skoot op Brooks geskiet. Eers toe, sê Brooks, het hy besef die man is ‘n polisiebeampte, want toe hy om hulp skreeu, het ‘n ander polisieman opgemerk "Don’t worry, he is a policeman".

Brooks sê dat Maluleke hom kort voor die skietery gedreig het met woorde soos "tonight you are going to die young". By die polisiestasie self sou Maluleke voor getuies blykbaar opgemerk het "when I’m sober your’e gonna die". Brooks, wat ook beweer dat Maluleke onder die invloed van alkohol was, het ‘n saak van poging tot moord teen Maluleke aanhangig gemaak. Maluleke het op sy beurt ‘n saak van aanranding met die doel om ernstig te beseer teen Brooks gelê. Nie Brooks of Maluleke is gearresteer nie.

Na wat verneem word moes beide Brooks en Maluleke Dinsdagoggend in die hof op Levubu verskyn. Die voorval het wye belangstelling ontlok, veral van georganiseerde landbou se kant.

Brooks was wel daar en sy saak is uitgestel. Daar was egter geen teken van Maluleke nie.

"Konstabel Maluleke, wat die klag gelê het, was nie teenwoordig nie. Hy was blykbaar op diens en moes skynbaar iewers heen ry. Op my vraag oor sy verskyning op aanklag van poging tot moord, het die SAPD geantwoord dat hulle nog nie ‘n besluit geneem het oor sy vervolging nie!" het mnr. Stephen Hoffman, voorsitter van die Soutpansberg Distrikslanbou-unie, ná die hofverrigtinge opgemerk.

"Ek moes myself knyp om seker te maak dat ek nie droom nie. ‘n Persoon wat iemand probeer doodskiet by twee geleenthede en daarna weer dreig om hom dood te maak, word losgelaat om te maak soos hy wil. Wat van mnr. Brooks en sy familie? Is hulle veiligheid niks werd nie?" sê Hoffman. Hy het ook gevra of dit die SAPD se taak is om moontlike kriminele elemente binne hul eie geledere toe te vou in ‘n kombersie en ten alle koste te beskerm, terwyl die wetsgehoorsame landsburger en belastingbetaler uitgelewer word aan hierdie mense.

"Dit mag mos onder geen omstandighede toegelaat word nie," sê Hoffman. Hy het ook ernstige vraagtekens geplaas oor die polisiestasie op Levubu se hantering van die voorval.

Soos reeds genoem, is sekere vrae aan die polisie oor die voorval gestel. Dit het onder meer ingesluit of Maluleke se drastiese optrede in hierdie voorval volgens wet regverdigbaar was; waarom Maluleke nie geskors is, hangende die uitslag van die ondersoek na die voorval, nie; of Maluleke steeds diens verrig met sy dienspistool; en of daar wel, soos deur Brooks versoek, bloed getrek is om te bepaal of Maluleke onder die invloed van alkohol was toe die skietery plaasgevind het.

 

Written by

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines