

ADVERTISEMENT:

News Date: 22 February 2008
Daar is geen einde in sig vir die Stadsraad se probleem met die dorp se wankelende infrastruktuur nie. Vandeesweek was dit weer die plaaslike hoërskool wat vir die soveelste keer hierdie jaar moes deurloop onder ‘n tekort aan water.
Volgens mnr Henri Denner, hoof van Louis Trichardt Hoërskool, was hulle hierdie jaar by die skool meer sonder water as wat daar water in die pype was.
"Vandat die skool op 8 Januarie begin het, sukkel ons met hierdie probleem. Vir die eerste drie dae het ons geen water gehad nie. Ons rapporteer dit elke kort-kort, maar die water is skaars aan dan is dit weer af. As dit dan nog aankom, is die drukking so swak dat mens kwalik iets daarmee kan doen," sê Denner. Hyself gaan gebuk onder hierdie probleem want sy huis oorkant die skool is op dieselfde lyn.
"Op die oomblik maak ons gebruik van tenks om die sisteem aan die gang te probeer hou. Ons plaas tenks op strategiese punte op die terrein sodat die kinders water het om te drink. Verder onderhandel ons tans met ‘n instansie om meer tenks te bekom sodat ons die rioolsisteem instand kan hou."
Mens kan jou indink watter gesondheidsrisiko die skool in die gesig staar as digby ‘n duisend kinders op ‘n gereelde basis die toiletgeriewe moet gebruik en daar is geen water om die afval af te voer nie.
‘n Groot deel van die skooldag word gewy aan die aanry van water in tenks. Die terreinpersoneel moet na elke pouse die kleedkamers deurgaan en al die toilette met emmers volmaak om dit te spoel. Sodra die water in die tenks op is, moet daar weer van voor af aangery word.
"Ons maak gebruik van die skool se boorgat en die dam wat hier op die terrein is, maar die sisteem is nog nie so ingerig dat ons voltyds daarvan kan gebruik maak nie," sê Denner. Hy voeg by dat die skool gelukkig nie die tenkstaanders waaroor hulle beskik, verkoop het nie. Die instansie wat hulle van hulp is met die bekom van tenks het onderneem om hulle sover moontlik by te staan om die krisis te hanteer. Een groot geluk is dat die groot Interhoër sportbyeenkoms wat die afgelope Saterdag op die skool se bane plaasgevind het, nie deur die krisis gekortwiek is nie. Vroeg Saterdagoggend is die skool in kennis gestel dat daar sou water wees vir die duur van die byeenkoms, wat dan ook die geval was. Dié situasie het deur die naweek voortgeduur. Teen Maandagoggend was die water egter weer af.
Die vraag wat onwillekeurig ontstaan is hoe die sisteem werk en wat die Stadsraad doen om die saak te beredder. Dat die bestaande infrastruktuur nie die huidige aanvraag kan hanteer nie, is lankal duidelik. Die probleem lê egter veel wyer as net ‘n pyp wat hier en daar lek of bars. Volgens die skool is die eerste verduideliking wat hulle vir die probleem gekry het dat ‘n pyp iewers bokant die skool, naby die opgaardam in die berg, gebars het. Toe die pyp egter herstel is en die skool steeds nie water het nie, kon die Stadsraad geen verduideliking gee oor waar die probleem lê nie. "Die mense probeer hulle bes. Hulle ry hier rond en draai hier krane oop en daar krane toe, maar dit help nie," sê Denner.
Een genade is dat die koshuise nie in dieselfde mate deur die krisis geraak word as die skool nie. Die koshuise lê klaarblyklik op ‘n ander toevoerlyn en het ook druktenks op hulle dakke, wat maak dat die probleem daar nie so erg is nie.
Die Zoutpansberger het die stadsraad se skakelbeampte, mnr. Louis Bobodi, genader om kommentaar oor die aangeleentheid. Bobodi het aangedui dat dit die eerste woord is wat hy van dié besondere probleem hoor. Hy het sy tegniese afdeling geskakel en dié het hom ingelig dat hulle oor geen rekord beskik dat enige iemand nog namens die skool kom kla het nie. Bobodi het egter die verseker gegee dat hy die probleem in ‘n baie ernstige lig beskou en dat hy onmiddellik daaraan sal aandag gee. Hy het verder aangedui dat hy dit vreemd vind dat niemand van die skool die probleem as belangrik genoeg beskou het om dit persoonlik by die stadsraad te kom rapporteer nie. In reaksie hierop het die persoon wat gereeld die moeite gedoen het om namens die skool die saak te rapporteer, mev. Trudie Breytenbach, aangedui dat sy dié uitlating belaglik vind.
"Ons het later nie meer die moeite gedoen om die Stadsraad te skakel nie, aangesien hulle net eenvoudig nie die telefoon antwoord nie. Ons het direk met een van die amptenare geskakel, wat vir ons baie moeite gedoen het en waarvoor ons baie dankbaar is," het sy gesê.
In ‘n verwante insident het die Zoutpansberger uit ‘n ander bron verneem dat daar ‘n soortgelyke maar groter probleem bestaan by die SACM Sinthumule-Kutama Maksimumsekuriteitsgevangenis. Hulle sit al glo van Maandagoggend nege-uur af sonder enige water. Met sowat 3000 gevangenes wat elke dag moet water gebruik, is dit geen geringe probleem nie. Hoewel die gevangenis oor ‘n boorgatstelsel beskik, is daar by sommige mense twyfel of hierdie water in onverwerkte vorm werklik geskik is vir menslike gebruik. By navraag Dinsdag het die woordvoerder van die gevangenis, mnr. Mathiva, aangedui dat daar wel ‘n probleem met die water se drukking by die gevangenis was. Die waarnemende besturende direkteur van SACM, mnr. Pieter Jordaan, het later bevestig dat die probleem opgelos is en dat die gevangenis maatreëls in plek het om sodanige krisis te hanteer.

ADVERTISEMENT:
