

ADVERTISEMENT:

News Date: 22 February 2008
‘n Gefrustreerde boer het die afgelope week sowat 136 beeste van die Mailaskop-omgewing laat skut, nadat hulle herhaaldelik toegelaat is om sy landerye in te vaar.
Volgens die boer, mnr. De Wet van Wyk van die plaas Boskoppies, sukkel hy nou al amper ‘n jaar lank met die probleem. Hy sê hy het per geleentheid al self die beeste uit die landerye gejaag en in ‘n kraal geplaas, maar te midde van navrae het die beeste vir dae daar gestaan sonder dat die eienaars na vore gekom het.
Van Wyk sê hy lei duisende rande se skade elke keer as die beeste in sy landerye kom. Nie net die plante word beskadig nie, maar ook die besproeingspype.
Op Donderdag, 14 Februarie, was die beeste weer in sy landerye en dié keer het hy besluit genoeg is genoeg.
Van Wyk het eers die plaaslike veediefstaleenheid geskakel, wat op hulle beurt die hulp van die Makhado Munisipaliteit se verkeersafdeling ingeroep het. In totaal is 140 beeste bymekaar gemaak en in ‘n trop al die pad vanaf Mailaskop via die N1 na die munisipale skut op Louis Trichardt gejaag. Op die ou end is slegs 136 geskut nadat ‘n paar van die beeste langs die pad verlore geraak het.
Munisipale woordvoerder op Louis Trichardt mnr. Louis Bobodi het vandeesweek gesê die munisipaliteit het reeds baie van die beeste se eienaars opgespoor. Nie net moes hulle ‘n R20 per dag boete per bees betaal nie, maar ook addisionele boetes in gevalle waar die beeste nie gebrandmerk is nie. Teen Dinsdag was daar nog net agt beeste in die skutkraal. Die eienaars wat hul beeste kom haal het, is ook deur die plaaslike verkeersafdeling van die gevare van rondloperbeeste ingelig.
Intussen het Van Wyk gesê dat hy in hierdie stadium nie skadevergoeding by die eienaars van die beeste gaan eis nie, maar hy het hulle gewaarsku dat, indien dit weer gebeur, daar eise ingestel sal word. In wat moontlik ‘n wraak-verwante voorval was, is een van Van Wyke se sementdamme sedert die voorval vergiftig. Die polisie ondersoek die saak.

ADVERTISEMENT:
