

ADVERTISEMENT:

News Date: 22 February 2008
Ladies Circle 4, Louis Trichardt, is tans besig met ‘n fondsinsameling projek vir die aankoop van ‘n gemotoriseerde rolstoel vir bekende plaaslike inwoner Johan Seegers.
Johan Seegers, ‘n diabeet vir die afgelope 30 jaar, is tans in ‘n gewone rolstoel en is totaal afhanklik van andere se bystand om rond te beweeg.
Op 20 Augustus, 2003, is die helfte van sy regtervoet geamputeer. Die amputasie was egter onsuksesvol en twee weke later moes daar weer aan sy voet gesny word. Op 16 September dieselfde jaar is Johan se been onder die knie afgesit.
Volgens Johan is al die operasies privaat gedoen en moes hul kinders die kostes dra, aangesien hy nie ‘n mediese fonds gehad het nie. Sy seun het ondermeer sy studiegeld wat hy oorsee verdien het hiervoor gebruik.
Johan beskryf die jaar na sy amputasie as "hel". Die wond wou net nie genees nie. In Desember 2004 het Johan se vrou uit radeloosheid hom na die Pretoria Akademiese Hospitaal toe geneem waar hy letterlik by die dood omgedraai het. Hier is daar drie keer aan hom gesny in ‘n proses wat as "polonie" beskryf word. ‘n Stuk been word elke keer soos ‘n sny polonie afgeskil.
Johan se toestand het egter vererger en in Januarie 2005 moes hy verskeie bloedoortappings kry net om aan die lewe te bly. Kort hierna is sy been egter op die knie afgesit.
Johan vertel dat hy letterlik in ‘n stadium by die hospitaal uitgevlug het. Infeksie het egter ingetree, maar gelukkig kon plaaslike dokters die infeksie keer.
‘n Jaar later is daar ‘n aarvervanging in Johan se linkerbeen gedoen maar in September 2006 het gangreen ingetree. Eers is net sy nael op die groottoon verwyder, maar skaars drie weke later is die hele toon afgesit. Sy toestand het verder versleg en in ‘n stadium wou dokters ‘n onderbeen amputasie doen.
Johan het egter vasgeskop en geweier. Die pyn was reeds ondraaglik en hy wou nie weer deur die hele proses gaan nie. Net voor Kersfees is sy ander been ook egter net bo die knie afgesit. Sedert die amputasie is Johan absoluut van ‘n rolstoel afhanklik.
"My gewone ene is nie meer veilig nie; die geringste ongelykheid in oppervlakte maak dat die stoel agteroor kantel. My vrou moet my orals heen neem en dit sal wonderlik wees om net weer bietjie meer onafhanklik te kan wees," sê Johan.
Volgens Melinda Prinsloo van Ladies Circle 4 is daar reeds ´n kwotasie verkry van ‘n maatskappy in Kaapstad vir ‘n gemotoriseerde rolstoel. Die goedkoopste stoel kos R14 250. Melinda sê hulle sal alles in hul vermoë doen om Johan te help, en sal enige hulp van die publiek waardeer.
Donasies kan inbetaal word in Ladies Circle 4 se rekening. Die bankbesonderhede is Ladies Circle 4, FNB Louis Trichardt, takkode 260149 en rekening nommer 5286 002 9358. J Seegers moet as ‘n verwysing geplaas word.

ADVERTISEMENT:
