

ADVERTISEMENT:

News Date: 29 February 2008
Dit is nie ongewoon om harige wurms raak te loop nie, maar vir mnr. Eric Nel van Louis Trichardt was die verskyning van ‘n harige wurm met tientalle "eiertjies" op die rug iets heel nuuts.
Eric sê hy het op die snaakse verskynsel afgekom toe hy op Sondag, 10 Februarie, by die Albasinidam was om interresantheidshalwe te gaan kyk wat die dam se watervlak was. Hier het hy die harige wurm op die grond gewaar met wat soos tientalle klein eiers op sy rug gelyk het. Omdat die verskynsel vir hom vreemd was, het hy die wurmpie gevang en saam met hom huis toe geneem.
Eric sê hy is baie lief vir die natuur en geniet dit om in die buitelug te wees.
"Ek het al baie harige wurms gesien, maar dit is die eerste keer in my lewe wat ek iets so vreemd soos hierdie sien." Die wurmpie is sowat drie en ‘n half sentimeter lank, donkerbruin van kleur, met die eiertjies wat aan die haartjies vaskleef. Eric sê hy het al gesien hoe ‘n spinnekop kleintjies op die rug ronddra. Die eiertjies op die wurm is egter vir hom vreemd. Hy sê hy weet nie of dit die wurmpie self se eiers is nie, of dalk die van ‘n ander insek wat dit op die wurm gelê het. Eric sê hy is egter seker dat dit nie die eiers van ‘n parasiet is nie. Die rede hiervoor, sê Eric, is dat van die eiertjies al uitgebroei het. Intussen wag hy in spanning om te sien wat uit die ander eiertjies kom.

ADVERTISEMENT:
