ADVERTISEMENT:

 

Egpaar in slaapkamer met pangas aangeval

 

News  Date: 07 March 2008

 

‘n Egpaar op ‘n plaas in die Waterpoort-omgewing is die afgelope naweek ernstig beseer in ‘n barbaarse panga-aanval. Hulle is ook van ‘n groot kontantbedrag beroof.

Die egpaar, Johan en Maria Schultz, is omstreeks 02:00 Saterdagoggend, 1 Maart, in hul slaap in hul woonhuis aangeval. Hulle is onderskeidelik 52 en 59 jaar oud. Volgens die polisie op Waterpoort het twee gewapende mans die diefwering voor ‘n venster in die huis weggebreek en die egpaar in hul slaapkamer op die plaas Mopani verras. Die plaas is sowat 15km vanaf Waterpoort op die Mopani-pad geleë.

Die inbrekers het die egpaar wreedaardig met pangas toegetakel en geld geëis. Volgens die skakelbeampte van die SAPD op Waterpoort, insp. Ezekiel Lishivhu, het die aanvallers die misdaadtoneel te voet verlaat, nadat hulle ‘n kontantbedrag van R12 000 uit ‘n kluis in die huis verwyder het. Hulle het hul ernstig-beseerde slagoffers in die huis agtergelaat. Hy sê mnr. Schultz het daarin geslaag om die polisie te ontbied. Die polisie is onmiddellik na die toneel. Verskeie spesiale eenhede is geaktiveer in die soektog na die twee misdadigers. Spore is gevolg tot by die treinspoor. Van daar af was dit nie moontlik om vas te stel in watter rigting hulle beweeg het nie. Die ondersoek duur voort.

Inspekteur Lishivha sê die slagoffers kon weens hul ernstige beserings nie help met ‘n beskrywing van hul aanvallers nie. Die beseerde egpaar is aanvanklik na die Siloam-hospitaal afgevoer. Mev. Schultz, wat volgens die polsie kop- en handbeserings opgedoen het in die panga-aanval, is ná behandeling ontslaan.

Dinsdag is berig dat mnr. Schultz, wat Saterdag bewusteloos met ernstige kop- en armbeserings by Siloam opgeneem is, na ‘n hospitaal in Polokwane oorgeplaas is. Hy het volgens die polisie onder meer ‘n ernstige wond aan sy voorkop gehad.

Lede van die plaaslike gemeenskap het met ontsteltenis gereageer toe bekend geword het dat die SAPD op Waterpoort ná dié bloedige aanval bloot ‘n saak van huisbraak en diefstal ("house robbery") geopen het. Nadat dié ongelukkigheid Dinsdag onder die aandag van die provinsiale polisie in Polokwane gebring is, en dit ook bekend geword het dat mnr. Schultz in ‘n ernstige toestand na Polokwane oorgeplaas is, is bevestig dat die klagstaat gewysig sou word om verskeie ernstiger klagtes, waaronder poging tot moord, by die oorspronklike klag by te voeg.

Die TLU SA Noord se streekkantoor het in ‘n mediaverklaring met kommer kennis geneem van die plaasaanval. Die voorsitter van TLU SA Noord, mnr. Dries Joubert, sê dit is die 16de aanval sedert 1 November in die streek.

Mnr. Joubert sê daar moet kennis geneem word van die bydrae wat onverantwoordelike owerheidshoudings en -verklarings maak om ‘n klimaat te skep waarin dit maklik is om tot die gevolgtrekking te kom dat wetteloosheid en wreedaardige aanvalle op boere vir die regering aanvaarbaar is. Hy het onder meer verwys na ‘n onlangse mediaverklaring deur die Departement van Arbeid, wat hy as uiters aggressief, skeefgetrek en opruiend beskryf het. Hy sê sulke verklarings kan nie uitgesluit word as moontlike aanhitsing vir kriminele om weerlose mense op plase aan te val nie.

 

Written by

Frans van der Merwe

Frans van der Merwe is a freelance journalist with more than 40 years experience in the newspaper industry. Apart from newspaper reporting, he was also involved with radio news, news reading, training and marketing. He has been living and working in Louis Trichardt since 1991.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines