

ADVERTISEMENT:

News Date: 07 March 2008
Ruan Rautenbach (15) herstel nog steeds van kneuswonde aan sy gesig en liggaam, nadat hy deur ‘n mede-leerder van Hoërskool Louis Trichardt toegetakel is.
Ruan is op Dinsdag, 26 Februarie deur ‘n mede-leerder in skooltyd gegryp en aangerand.
"Ons het net klasse gewissel en ek was al besig om my boeke uit my tas te haal toe hy skielik voor my kom staan," vertel Ruan. Oomblikke later is Ruan in die gesig geslaan.
Skoolgeweld is tans ‘n baie aktuele besprekingspunt nasionaal en ‘n groot bekommernis vir ouers. In verlede week se uitgawe van die Zoutpansberger is berig van ‘n voorval waar ‘n leerling van Hoërskool Louis Trichardt ‘n mede-leerder, toevallig op dieselfde dag, met ‘n stukkende bottel gesteek het. Die voorval het na skool plaasgevind, terwyl die leerders huis toe gestap het. In reaksie hierop het die hoof van Hoërskool Louis Trichardt, mnr. Henri Denner, gesê dat die voorval ongelukkig buite sy jurisdiksie val, aangesien dit nie binne skooltyd of op die skoolterrein plaasgevind het nie.
Aanvanklik wou Ruan se ouers, Piet en Sally, nie die saak koerant toe neem nie, want hulle het gevoel hulle wil nie verder moeilikheid maak nie. Hulle het egter van plan verander nadat hulle met familie en vriende gepraat het wat foto’s gesien het van hoe Ruan se gesig na die aanranding gelyk het.
Beide Ruan en die leerder wat hom aangerand het is kantoor toe geroep waar daar met beide leerders gepraat is. Toe daar vir die aanrander gevra is waarom hy Ruan geslaan het, het dié beweer dat Ruan kwansuis ‘n foto van eersgenoemde se meisie met sy selfoon sou geneem het. Op ‘n vraag of hy bewys hiervan het, was die aanrander se verweer: "Dit is wat almal sê."
Ruan is dokter toe geneem en intussen is sy ouers geskakel en van die voorval ingelig. Na die voorval het Ruan se ouers hom uit die skool gehaal. Daar is nie ‘n saak van aanranding by die polisie aanhangig gemaak nie, aangesien die Rautenbachs in die proses is om na Burgersfort te verhuis en nie kans sien om vir ‘n onbepaalde tydperk lang afstande heen en weer te reis om hofverrigtinge by te woon nie.
Die hele voorval het mev. Rautenbach erg geskok.
"Ek kon dit nie glo nie. My dogter, wat nou 26 is, het haar skoolloopbaan by Triegies voltooi en daar was nooit so ‘n probleem nie," sê sy.
Wat Ruan se aanranding betref, het Denner hierdie week gesê dat die hoërskool se personeel ongelukkig nie te alle tye orals op die skoolterrein kan wees nie. Die aanranding het plaasgevind toe die onderwyser nog op pad was klaskamer toe.
Denner het gesê dat die skool nog oorweeg watter stappe daar teen die oortreder geneem sal word. Intussen is hy steeds by die skool. Denner het ook gesê dat hulle gereeld met die leerders praat om na ander maniere te kyk om probleme op te los as om oor te gaan na geweld.

ADVERTISEMENT:
