ADVERTISEMENT:

 

Ma bekommerd dat verkeerde boodskap uitgestuur word

 

News  Date: 07 March 2008

 

Die moeder van die leerder van Hoërskool Louis Trichardt wat ernstige beseer is in ‘n naskoolse insident sê die skool se amptelike reaksie op die gebeure, soos weerspieël in ‘n berig in verlede week se uitgawe van Zoutpansberger, is teleurstellend en kan ‘n verkeerde boodskap uitstuur aan potensiële boosdoeners.

Die Graad 11-leerling moes verlede week Dinsdag dringende mediese hulp ontvang, nadat ‘n medeleerling (‘n meisie wat van hom familie is) hom met ‘n gebreekte bottel in die maag gesteek het, vermoedelik ná ‘n stryery oor ‘n selfoon. Die voorval het in Andersonstraat, digby die munisipale swembad, plaasgevind.

Die seun se maagwond is aanvanklik by die Louis Trichardt Gedenkhospitaal toegewerk, maar hy moes weens inwendige bloeding later in die Zoutpansberg Privaat Hospitaal geopereer word.

"Die wond was baie dieper en ernstiger as wat aanvanklik vermoed is. Sy een ribbebeen is in die voorval beskadig en ‘n slagaar is ook getref," het die getraumatiseerde moeder vandeesweek in ‘n telefoniese onderhoud gesê. Die kind is nog steeds tuis en sal waarskynlik eers volgende week kan terugkeer skooltoe. Hy verduur baie pyn en ongerief.

In verlede week se berig is die skoolhoof, mnr. Henri Denner, aangehaal waar hy gesê het te midde van die heersende kommer oor skoolgeweld moet ouers en inwoners versigtig wees om gevalle soos dié uit verband te ruk. Hoewel altwee die betrokkenes by die insident leerlinge van Hoërskool Louis Trichardt is, het die insident nie op die skoolterrein plaasgevind nie. Mnr. Denner het gesê: "My jurisdiksie eindig sodra die leerlinge die skoolterrein verlaat."

Hy het terselfdertyd ouers die versekering gegee dat leerlinge se veiligheid prioriteit geniet en dat elke insident op die skoolterrein opgevolg en oortreders vasgevat word.

Die besorgde moeder van die beseerde leerling sê hoewel dit sekerlik die wetlike posisie weerspieël, is die wyse waarop dit gestel is onrusbarend.

"Gedeeltelik ondermyn dit eintlik die gerusstelling dat leerlinge se veiligheid prioriteit geniet, want in dieselfde asem kry potensiële boosdoeners die versekering dat hulle maar net buitekant die skoolhek kan wag as hulle ‘n leerling kwaad wil aandoen, omdat hulle daar geen inmenging van die skoolowerhede se kant hoef te vrees nie."

 

Written by

Frans van der Merwe

Frans van der Merwe is a freelance journalist with more than 40 years experience in the newspaper industry. Apart from newspaper reporting, he was also involved with radio news, news reading, training and marketing. He has been living and working in Louis Trichardt since 1991.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines