ADVERTISEMENT:

 

Belastingbetalers het die konsep eiendoms-belastingbeleidsverga-dering op 28 Februarie by die skousaal bygewoon. Die SBBV het hulle teleurstelling na afloop van die vergadering uitgespreek omdat daar nie werklik konsultasie was nie. Foto verskaf.

Vergadering oor eiendomsbelasting gee min antwoorde

 

News  Date: 07 March 2008

 

Die inligtingsvergadering rondom die Makhado Munisipaliteit se konsep eiendomsbelastingsbeleid is as onbevredigend en teleurstellend bestempel deur vergaderinggangers.

 

Die Soutpansberg Belastingbetalersvereniging het ‘n persverklaring uitgereik na afloop van die vergadering op 28 Februarie by die skousaal. In die verklaring sê hulle dat die vergadering weer as ‘n inligtingsvergadering hanteer is, ‘n vergadering waarin hulle weereens nie ‘n sê gehad het nie en ook nie behoorlik gekonsulteer is nie.

"Beswaar is op die vergadering aangeteken dat die munisipaliteit weereens gebruik maak van konsultante om die beleid te formuleer en dit dan op sogenaamde konsultasievergaderings aan te bied. Konsultante doen nou normale werk wat blykbaar nie deur die amptenary, raadslede of die munisipale bestuurder gedoen kan word nie, teen koste wat vir ander doeleindes in die gemeenskap aangewend kon word," lui die SBBV se persverklaring.

Die SBBV sê dat die konsultant, mnr. Wellies Welgemoed van Akhile, se aanbieding uiters professioneel was, maar dat sy maatskappy in Pretoria gesetel is en nie ‘n direkte verantwoordelikheid teenoor die plaaslike belastingbetaler het nie.

Negentig persent van die teenwoordiges by die vergadering was Afrikaanssprekend. ‘n Versoek dat die vergadering in Afrikaans gehou word, is deur die konsultant geweier, wat gesê het dat hy opdragte uitvoer.

"Die konsultant het met ‘n snelle pas deur die dokumentasie gedrawwe … op intimiderende manier," lui die verklaring. Daar was ook nie veel tyd toegelaat vir vrae nie en sekere vrae kon nie deur die konsultant beantwoord word nie.

Lede van die SBBV se vrae oor hoe eiendomswaardasie in die praktyk gedoen is, kon nie deur die konsultant beantwoord word nie.

"Heftige beswaar is ook aangeteken dat belasting betaal moet word op eiendom wat deur die eienaar op sy eie koste verbeter is, soos die bou van huise, die aanplant van boorde, die bou van damme en die installering van besproeiing … Die konsultant kon nie die vraag beantwoord nie en het onderneem om uit te vind hoe plaaseiendomme gewaardeer was … Die Soutpansberg belastingbetalersvereniging sal vereis dat die waardeerders aan die belastingbetalers van die area kom verduidelik hoe waardasies gedoen is. Daar is ‘n groot onduidelikheid oor die waardasiemetodes en hoe dit prakties uitgevoer is, aangesien dit die spil is waarom hierdie onregverdige, verarmende belasting draai," sê die SBBV.

 

Mnr. Herman Smith, voorsitter van die SBBV, sê dat kerkeiendomme weereens weggelaat is uit die konsep regulasies, alhoewel dit duidelik in Wet LMPR 2004 (no. 6 van 2004) as ‘n ontoelaatbare belasting geklassifiseer is. "Die belastingbetalers wil die kerkeiendomme duidelik omskryf hê in die munisipale beleid, " sê mnr. Smith.

 

Written by

Linda van der Westhuizen

Linda van der Westhuizen has been with Zoutnet since 2001. She has a heart for God, people and their stories. Linda believes that every person is unique and has a special story to tell. It follows logically that human interest stories is her speciality. Linda finds working with people and their leaders in the economic, educational, spiritual and political arena very rewarding. “I have a special interest in what God is doing in our town, province and nation and what He wants us to become,” says Linda.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines