

ADVERTISEMENT:

News Date: 07 March 2008
‘n Dertigjare vrou van Musina is na bewering deur haar man met ‘n sambok doodgeslaan na ‘n huishoudelike struweling. Die polisie kon nog nie die rede vir die struweling vasstel nie.
Die woordvoerder van die polisie op Musina, konst. Deborah Bob, het aangedui dat die voorval Maandag by die Shadrack Wildreservaat, sowat 20km buite Musina, plaasgevind het.
"Die oorledene en die beskuldigde het in ‘n woordewisseling betrokke geraak oor ‘n huishoudelike aangeleentheid op Sondag omstreeks 23:00. Die argument het uiteindelik ontaard in ‘n geveg. Die beskuldigde het sy vrou met ‘n sambok begin toetakel, waartydens sy ernstige hoof- en lyfbeserings opgedoen het. Die vrou is op die toneel dood," sê Bob.
Die oorledene is uitgeken as mev. Catherine Muleya, en haar liggaam is na die staatslykshuis op Musina geneem vir ‘n nadoodse ondersoek.
Bob het aangedui dat die beskuldigde gesamentlik deur die bevelvoerder van die polisiestasie op Musina, Supt. Maggie Mathebula, en Insp. Libusha in hegtenis geneem is naby Paradise, Nzhelele, om ongeveer 13:00.
"Die beskuldigde is gearresteer ná ‘n wenk deur lede van die publiek en hy het sedertdien in die hof verskyn op ‘n aanklag van moord," sê Bob. Sy saak is uitgestel tot 11 Maart en geen borgtog is aan die beskuldigde toegestaan nie.
"Die polisie raai steeds mense aan om enige vorm van geweld te vermy as ‘n manier om verskille by te lê. Dit lei tot onnodige lewensverlies. Inteendeel, ons beveel aan dat mense berading kry om hulle probleme en verskille op te los op ‘n gemoedelike manier, eerder as om mekaar aan te val en dood te maak," sê Bob.

ADVERTISEMENT:
