ADVERTISEMENT:

 

Besigheid al raadop met voertuigregistrasie

 

News  Date: 14 March 2008

 

Vir diegene wat dalk onder die wanindruk mag verkeer dat ander dorpe se stadsrade meer effektief en doelmatig funksioneer, ‘n stukkie slegte nuus. Dit blyk dat dit maar orals dieselfde is.

Neem nou maar die voorbeeld van mnr. Buks van Tonder, wat al meer as twee jaar lank sukkel om ‘n voertuig by die Polokwane stadsraad geregistreer te kry.

Van Tonder van Louis Trichardt werk vir Madikor 16, ‘n abattoir wat op grootmaat vleis verhandel. Hy is in beheer van hulle transport-afdeling. Hulle het in Desember 2005 ‘n nuwe, doelgeboude koeltrok gekoop by ‘n handelaar in Polokwane.

Vir hulle doel word slegs ‘n onderstel aangekoop, waarna dit na ‘n spesialis agentskap geneem word om die verkoelingseenheid op die bakwerk aan te bring. Eers nadat die bakwerk voltooi is, kan die vragmotor geregistreer word, aangesien die gewig van die voertuig nie by aankoop beskikbaar is nie. Die dokumentasie ter stawing van die ombouing en uiteindelike gewig word aan die handelaar verskaf, wat dan die registrasie namens die kliënt hanteer deur dit in te handig by die betrokke plaaslike owerheid waar die voertuig aangekoop is.

Hierdie hele prosedure is gevolg, met dié verskil dat die Polokwane stadsraad tot op hede toe nog nie die voertuig geregistreer het nie. Wat die situasie verder problematies maak is dat elke nuwe voertuig aanvanklik met ‘n tydelike permit uitgereik word, wat na drie weke verval. Dit word gedoen om te verseker dat die voertuig binne drie weke wettiglik geregistreer word. Indien die registrasie nie plaasvind nie, moet ‘n nuwe permit vir ‘n drie weke periode uitgereik word, teen ‘n koste van ongeveer R80. Aangesien die vragmotor nog nie geregistreer is nie, moes die handelaar dus elke drie weke ‘n nuwe permit uitneem sedert die verkoop van die vragmotor om te verhoed dat die kliënt se voertuig in onbruik staan. Lesers kan gerus self die berekening maak.

Nog is dit het einde niet. Soos wat maar te dikwels gebeur, word swaarvoertuie gereeld deur die provinsiale en plaaslike verkeersinspekteurs voorgekeer en ondersoek vir padwaardigheid. Hierdie spesifieke vragmotor is al ‘n paar keer voorgekeer vir dié doel. Die verkeersbeamptes wil egter nie glo dat die probleem met die registrasie by die Polokwane stadsraad lê nie. Die tydelike permit is klaarblyklik nie vir hulle aanvaarbaar nie. Die gevolg is dat een van hulle al die permit gekonfiskeer het en die bestuurder ‘n stywe boete ontvang het. Toe hy verder ry, word hy later deur nog ‘n beampte voorgekeer, wat hom toe beboet omdat die vragmotor nie geregistreer is of ‘n permit het nie.

Wat nou gemaak? Die vragmotor kan nie staan nie. Dit kan egter nie ry nie, want dit is ongelisensieerd. Daarbenewens gee die maatskappy se versekeraars ook probleme, aangesien hulle nie ´n ongeregistreerde voertuig kan verseker nie. Skade of diefstal ten opsigte van die voertuig is dus ´n verdere potensiële nagmerrie.

Die Zoutpansberger het mnr. Simon Mokoatedi, die skakelbeampte van die Polokwane stadsraad, genader om te probeer uitvind waar die probleem lê en of hy enigsins kon help om die probleem op te los. Hy was baie vriendelik en behulpsaam en het onderneem om aan die probleem aandag te gee, wat hy ook toe gedoen het. Hy het later teruggeskakel en gerapporteer dat die probleem by die handelaar lê waar die voertuig aangekoop is, meer spesifiek by die dokumentasie ter stawing van die nuwe gewig as gevolg van die ombouing. Volgens die handelaar se verteenwoordiger, wat die transaksie hanteer het en persoonlik die dokumente ingehandig het by die betrokke toonbank, is dit loutere snert.

"Dit kan nie wees nie," sê hy. "Ek het persoonlik die dokumente daarheen geneem en ingehandig waar ek elke keer wat ek ‘n voertuig verkoop die papiere inhandig. Hoekom sal ek nou, na soveel jare, nie die papierwerk reg doen nie? Ons is al moedeloos met dié mense. Ons het hulle al tot gedagvaar oor die saak," was sy reaksie.

Later het mnr. Mokoatedi beweer dat die saak deur die verkeersafdeling van die munisipaliteit hanteer word. By navraag het ‘n verteenwoordiger van die handelaar bevestig dat hulle deur die stadsraad geskakel en versoek is om die nodige dokumentasie weer in te handig, wat hulle dan ook gedoen het. Zoutpansberger het die afgelope twee weke gereeld opvolgwerk gedoen om te probeer uitvind of die probleem al aangespreek is. Teen saktyd kon geen bevestiging verkry word dat die saak enigsins verder gevorder het nie.

 

Written by

Nic Hoffmann

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines