

ADVERTISEMENT:

News Date: 14 March 2008
‘n Jaar en twee maande gelede het mnr. Renier Fourie van Louis Trichardt begin om sy nuwe droomhuis in Rissikstraat te bou. Die huis is nou al klaar, maar daar is ietwat van ‘n "stink" probleem.
Fourie het krag en water; die enigste ding wat hy nie het nie, is riool, want tot op hede het die munisipaliteit nog nie sy aansluiting kom doen nie.
"Omtrent twee maande gelede het ek begin navraag doen waarom my riool nog nie aangesluit is nie. Ek is meegedeel dat daar ‘n probleem is aangesien my bure eers moet toestemming gee dat daar deur hulle erwe gegrawe mag word na die rioolaansluitingspunt laer af in die straatblok," sê Fourie.
Die munisipaliteit het toe briewe uitgestuur na die onderskeie bure. Almal het ingestem, behalwe sy bure reg agter hom. Die sloot wat gegrawe moes word sou deur ‘n gedeelte van sowat agt meter van hul pypsteel erf loop.
Sowat twee weke gelede het die bure wat aanvanklik geweier het, uiteindelik ingestem, op voorwaarde dat geen swaar masjinerie gebruik mag word nie en dat daar slegs op ‘n Vrydag of Saterdag gewerk mag word.
Fourie het sommer daardie eerste Vrydag sy eie span werkers bymekaar gemaak en die munisipaliteit versoek om die sloot te kom grawe. Niks het egter gebeur nie.
Fourie is nou al redelik boos.
"Verstaan hulle nie ek betaal paaiemente vir ‘n huis waarin ek nie kan bly nie. Elke keer is dit ‘n belofte van volgende week, volgende week," sê Fourie.
Fourie het twee weke gelede maar ‘n septiese tenk gaan huur en geïnstalleer by sy huis.
"Na die goeie reën verlede Maandag was dit ‘n gemors. Die tenk het oorstroom en die riool het in my erf opgedam."
Die Makhado Munisipaliteit se direkteur; tegniese dienste, mnr. Freddy Mamauremi, het hierdie week by navraag bevestig dat hy bewus is van die probleem. Hy het verduidelik dat die probleem ontstaan het as gevolg van foutiewe argitekstekeninge. Die huis se riool moes aanvanklik regoor die straat by ‘n punt aangesluit het. Die huis se vlak is egter laer as die aansluitingspunt en daarom moes die munisipaliteit toestemming kry by inwoners om deur hulle erwe te grawe na die aansluitingspunt laer af in die straatblok. Dit opsigself was ‘n lang proses.
"Al het die munisipaliteit die planne goedgekeur, moes die argitek wat die planne opgetrek het, seker gemaak het van sy vlakke," het Mamuremi gesê.
Maar wie ookal vir die vertraging verantwoordelik was, Mamuremi sê dat dit nie nou die tyd is om verskonings te maak of skuld uit te deel nie.
"Die huis is klaar en die eienaar wil intrek, daarom moet ons kyk na oplossings," sê Mamuremi. Hy het bevestig dat hy reeds opdrag gegee het dat ‘n subkontrakteur aangestel moet word om, soos versoek deur die bure, oor ‘n naweek te werk. Die keuringsproses van die subkontrakteur was ongelukkig ook tydrowend. Woensdagoggend het hy bevestig dat ‘n subkontrakteur gevind is en dat die aansluiting heel moontlik eerskomende naweek gemaak sal word.
Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

ADVERTISEMENT:
