

ADVERTISEMENT:

News Date: 14 March 2008
Verbruikers sal toenemend die druk voel van stygende vrugte- en groentepryse vanweë ‘n geweldige toename in die insetkoste van boere.
Skoksyfers van presies hoe geweldig insetkospryse die afgelope jaar gestyg het is die afgelope week deur die TLU SA bekend gemaak. Volgens die voorsitter van TLU SA Noord, mnr. Dries Joubert, is die dramatiese styging kommerwekkend.
Mnr. Robert Gallon rapporteer vanaf Alldays dat kunsmis (stikstof, fosfaat, kalium) vanaf Januarie 2007 tot Maart 2008 tot met bykans 50% gestyg het. Skoon stikstof se prys in Januarie 2007 was R1 744 per ton en in 2008 het die prys gestyg tot R2 256 per ton. NPK mengsel (3-4-3) was R1 892 per ton in 2007 en in Maart 2008 was die prys R2 656 per ton. KNO3 het in Desember verlede jaar R5 500 per ton gekos en kos nou R11 200 per ton. In gevalle waar daar met tamaties geboer word, het kunsmis verlede jaar R7 000 per hektaar gekos. Nou kos dieselfde hektaar die boer sowat R16 000.
Die prentjie vir die groot hoeveelheid aartappelboere in die Soutpansberg en omstreke lyk nie veel beter nie. Volgens mnr. Japie van der Goot van die Bo-Brak Boerevereniging, het kunsmis vanaf Januarie 2007 tot Januarie 2008 met 30% toegeneem het. Moere het met 15% gestyg en gif met 23%.
"Een van die probleme is dat die aartappelbedryf een van die min bedrywe is waar die produsent moet betaal vir vervoer na die plaas en ook vir die vervoer na die mark toe. Die boere betaal die verhogings van almal in die waardeketting, alhoewel die koste nie by die prys van landbouprodukte ingesluit word nie. Die prys van aartappels het in dieselfde tyd met tot 30% gedaal," sê Van der Goot. Hy verduidelik verder dat die insetkoste vanaf R40 000 per hektaar gestyg het na R60 000.
"Dit sluit nie die styging in bemarkingskoste in nie. Die bemarkingskoste sluit die was, verpak, vervoer na die mark en agentekommissie in. Verpakking het met 15% tot 20% gestyg, vervoer met 30% en markkommissie met 13%. Die bemarking en insetkoste beloop nou tussen R100 000 tot R 105 000 per hektaar. Die gelykbreekpunt is R 20 per sakkie. Die rente op kapitaal is nie ingereken nie," sê Van der Goot.
Maar wat het die dramatiese toename in insetkoste teweeg gebring? Van die redes wat deur die TLU SA aangevoer word, sluit in die wêreldwye tekort aan onder meer saad, gekoppel aan die Amerikaanse dollar. Volgens mnr. Nico van Rensburg van Starke Ayres word ‘n groot deel van die saad ingevoer.
"Die saad uit Europa word direk aan die Euro gekoppel en die saad uit die VSA aan die Amerikaanse dollar. Die gevolg is dat die koste deur die skommeling in die wisselkoers geraak word. Verskeie ander faktore het ‘n invloed op die prys, soos onder andere die jaarlikse verhoging van verskaffers (3 tot 4%) en die invoer- en brandstofkoste. Die impak van die wisselkoers kan op 19% gestel word, plus die jaarlikse verhoging van saadverskaffers, wat die verhoging tot by 25% opjaag," sê Van Rensburg.
Joubert sê die verhoogde insetkoste het veral ‘n negatiewe impak op kleiner boere, opkomende boere en ‘ongereelde’ planters (klein boere wat ‘n paar hektaar ongereeld plant). Hy is van mening dat hulle sal moet ophou om te produseer.
"Groter boere sal die situasie beter kan hanteer. Die effek van die verhoogde brandstofprys is dat die verspreiding van aanplantings beïnvloed gaan word. Groot volumes groente (pampoen, waatlemoen) is oor ver afstande na markte vervoer. Meer en meer produksie in die verafgeleë gebiede verskuif nader aan stedelike gebiede, wat weer ‘n dramatiese effek op die landelike ekonomie uitoefen. In rypvrye gebiede (soos die Dendron gebied) wat altyd bekend was as dié pampoen gebied, het aanplantings dramaties afgeneem as gevolg van die koste aan tolgelde en brandstof. Sulke boere sal òf hul boerdery moet aanpas en produseer wat plaaslik bemark kan word òf gaan dit al hoe moeiliker vind om winsgewend te produseer," sê Joubert. Hy sê die verbruiker gaan agterkom dat die bekostigbaarheid van vrugte en groente verder onder druk geplaas gaan word.
"Soos wat meer boere die bedryf verlaat, gaan die vraag na vrugte en groente binnekort die aanbod oorskry. Die verbruikersorganisasies sal goed doen om druk op die regering te plaas om landbouers te beskerm eerder as om hulle ten alle koste uit te skuif," sê Joubert.

ADVERTISEMENT:
