ADVERTISEMENT:

 

Staat sluit saak af teen beskuldigdes in Hayward-moorde

 

News  Date: 21 March 2008

 

Die hooggeregshofsaak teen die twee Zimbabwiese mans wat van die dubbel-moord op die Hayward-egpaar van die Mountain View Hotel in Oktober 2004 aangekla word, het op 12 Maart op Louis Trichardt voortgeduur.

Die twee mans, Themba Thomas Chirume (20) en Liberty Marumo (18), word saam met ‘n derde Zimbabwiese verdagte, Jason Muleya Chadhebha (25), van dié grumoord aangekla. Die Staat het na maande se gespook om Chadhebha aan Suid-Afrika uitgelewer te kry, uiteindelik toestemming gekry. Toe lede van Interpol egter einde verlede jaar in Zimbabwe opdaag om Chadhebha in hegtenis geneem, is hulle deur die owerhede daar meegedeel dat hy ‘n week vantevore vrygelaat is. In hierdie stadium is Chadhebha steeds op soek.

Die klagtes teen Chirume en Marumo sluit onder meer in moord, poging tot moord, huisbraak met verswarende omstandighede, huisbraak met die doel om te steel en ernstig te beseer, die onwettige besit van ‘n vuurwapen en die onwettige besit van ammunisie. Clint (35) en Michelle Hayward (37) is gedurende die aand van 20 Oktober, 2004, koelbloedig in hul slaapkamer doodgeskiet.

Beide die Staat en die verdediging het tydens die twee mans se hofverskyning verlede week hul slotargumente aangevoer. Volgens die verdediging is Chirume en Marumo valslik deur die polisie aangekla. Hulle voer aan die polisie het die vuurwapen wat in die aanval gebruik is, self begrawe om vir Chirume en Marumo skuldig te laat lyk. Die twee beskuldigdes voer ook aan dat hulle deur die polisie aangerand is.

Die Staat het weer op hulle beurt aangevoer dat van die items wat uit die Haywards se woning gesteel is, insluitend ‘n kamera en ‘n skootrekenaar, in die beskuldigdes se besit gevind is. Die kamera is teruggevind met foto’s op van die beskuldigdes wat hulle van mekaar geneem het.

Uitspraak in die hooggeregshofsaak is voorbehou tot 3 en 4 April vanjaar.

 

Written by

Riaan de Swardt

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines