

ADVERTISEMENT:

News Date: 21 March 2008
Hernieude onderhandelinge is aan die gang tussen die Suid-Afrikaanse Nasionale Padagentskap (SANPAB) en die Makhado Munisipaliteit om ‘n veilige, geordende aansluiting tussen die N1 en Makhado Park te bewerkstellig.
‘n Vernietigende sabotasieveldtog is in Louis Trichardt ontketen toe die Nasionale Padagentskap sedert verlede week probeer het om die gewilde dog omstrede ingang vanaf die N1 na die woonbuurt permanent te sluit.
Werkers van ‘n kontrakteur het die ingang versper met paaltjies wat regoor die breedte van die pad ingeplant is. Groot waarskuwingsborde is ook na weerskante aangebring om die padversperring baie duidelik te merk. Die ingang is reeds vir etlike jare wederregtelik in gebruik, nadat SANPAB uit die staanspoor met die ontwikkeling van die woonbuurt dit duidelik gestel het aan die Makhado Munisipaliteit dat die betrokke toegang nie toelaatbaar is nie, omdat dit ‘n lewensgevaarlike situasie skep vir verkeer op die N1. Die verwaarloosde grondpaadjie vanuit die Vondelingpad sou die hoofingang tot die woonbuurt wees.
Die munisipaliteit het hom opsigtelik nie aan die waarskuwing gesteur nie en selfs die uitgang uit die woonbuurt na die onwettige aansluiting teen aansienlike koste geteer. Al die paaltjies en altwee die groot padtekens wat die onwettige aansluiting moes versper, is egter oornag deur vandale verwyder.
Verlede Donderdag het die kontrakteur die vernietigde versperring weer opgerig, die paaltjies dieper geplant en aangevul met ‘n nege-string doringdraadheining van bykans 50m lank.
Beide die paaltjies-versperring en die doringdraadheining is weereens oornag vernietig en die een padbord, wat dié keer met beton vasgegiet is, is ook gewelddadig verwyder. Saam met die nuwe draadheining van 45m, wat aan stukke geknip en weggesleep is, is ‘n verdere 35m van die bestaande heining tussen die dorpsmeent en die N1 ook vernietig.
Die kontrakteur wat die werk vir die padagentskap doen (op die koste van die belastingbetalers), het by navraag gesê ‘n persoon het hom op aggressiewe wyse kom dreig terwyl hy met die werk besig was. Hy het die voorval, tesame met die registrasienommer van die persoon se voertuig, aan die polisie gerapporteer. Hy het die polisie ook in kennis gestel van ‘n dreigement dat die heining oornag afgebrand sou word.
Teen Maandag was daar nog geen aanduiding dat die munisipale of provinsiale verkeersowerhede enige aandag aan die gevaarlike situasie skenk nie. Dinsdag het munisipale woordvoerder, mnr. Louis Bobodi, gesê die padagentskap het nie gereageer op vroeëre versoeke om die aansluiting te help normaliseer nie. Die sluitingsaksie is eensydig deur die padagentskap onderneem sonder om die munisipaliteit daarvan in kennis te stel. Hy sê onderhandelings is nou weer aangeknoop en die munisipaliteit, in samewerking met die padagentskap, sal ‘n bevredigende aansluiting ontwerp en Meimaand vanjaar reeds in werking stel.
Intussen is dit nie duidelik of die plaaslike polisie beoog om op te tree teen die persone wat wederregtelik die versperrings vernietig het.
Frans van der Merwe is a freelance journalist with more than 40 years experience in the newspaper industry. Apart from newspaper reporting, he was also involved with radio news, news reading, training and marketing. He has been living and working in Louis Trichardt since 1991.

ADVERTISEMENT:
