ADVERTISEMENT:

 

‘n Paar van die kinders glimlag breed tydens hul vlug in die Oryx-helikopter tydens LMB Makhado se jaarlikse kamp vir verstandelik-gestremde kinders verlede week.

Basis sit glimlag op gestremde kinders se gesigte

 

News  Date: 21 March 2008

 

Dit was weereens ‘n wonderlike gevoel gewees vir lede van LMB Makhado om die glimlagte om die groep kinders se gesigte gesien tydens 515 Eskader se jaarlikse kamp vir verstandelik-gestremde kinders.

Die kamp, wat nou al vir die 21ste keer aangebied word, is vanjaar weer by Lianga Lodge naby die basis vanaf 12 tot 16 Maart aangebied. Dit word nie net as ‘n jaarlikse hoogtepunt beskou deur die personeel wat die kamp aanbied nie, maar ook deur die kinders wat dit bywoon. Die kamp het ten doel om aan hierdie kinders ‘n voorsmakie te gee van die militêre lewe wat in hulle normale omstandighede nie moontlik sou wees nie.

Vanjaar is die kamp deur 37 seuns en 26 dogters bygewoon wie se ouderdomme gewissel het tussen 14 en 19 jaar. Hulle is afkomstig van spesiale skole van onder meer Polokwane, maar ook van so ver as Johannesburg.

Volgens Susan Louw, ‘n onderwyser van die Eureka Skool vir Gestremdes op Vereniging, is dit vir die kinders ‘n groot belewenis, aangesien meeste van hulle nog nooit hulle voete buite die Vaaldriehoek gesit het nie. Sy voeg by dat dit merkwaardig is om te sien hoe vinnig die leerlinge dissipline kan leer.

Leon Haak, ‘n onderwyser van die Hamlet Skool in Johannesburg, leer die kinders baie op so kamp en dit is iets wat hul nie gou weer sal vergeet nie. Sy vorige ondervinding van die kamp is dat die kinders jare later steeds daaroor praat – iets besonders opsigself.

Die kinders word geleer van basiese oorlewing en hoe om take aan te pak, iets wat hul nooit voorheen sou kon doen nie. Dit is egter, volgens Leon, ‘n hartseer storie wanneer die kamp tot ‘n einde kom, want by die vorige kamp het kinders in trane uitgebars toe hulle van hul instrukteurs moes afskeid neem.

Dit is ook maar ‘n emosionele belewenis vir die lugmagpersoneel. Vir instrukteur William Claasen is dit sy sewende jaar en bly dit vir hom lekker om altyd nuwe gesiggies by die kamp te sien. Die verhouding wat tussen ‘n instrukteur en die kinders opgebou word, is vir William ook baie lekker en hy sê een van die vorige jaar se kinders bel hom nog gereeld. Die eerste keer het die kind sy ouers telefonies aan William voorgestel.

"Ons dryf hul nie te hard nie, maar maak dit ook nie te maklik vir hulle nie. Sodoende word die kinders gehelp om leiers op hul eie te wees en take self te kan doen," sê William.

Majoor Wessie van der Westhuizen het tydens die kamp weereens al hul borge bedank, naamlik Soutpansberg Tafelrondte 66, die Vriende van die Lugmag, Coca-Cola Fortune, Tiny Bubbles Slaghuis, Prima Slaghuis, Die Vleisbroers, Lianga Lodge, Sasko, Limpopo Melkery, Fruit & Veg City, AMG, die Lugmagbasis Offisiersklub, Pick ‘n Pay, Spar, Rotary International, Leach Printers, die SAF Assosiasie, 19 Eskader (Hoedspruit), die lugmag Dankie sê Tannies en Lugmagbasis Makhado.

Volgens Wessie is die kamp lewensverrykend vir die kinders. Hy sê dit bied hulle ‘n geleentheid om te kan voel hoe dit is om in die weermag te wees, fiksheidstoetse te doen, en te marsjeer, asook om te kan vlieg. ‘n Groot hoogtepunt vir die kinders is die jaarlikse vlug in ‘n Oryx-helikopter.

Daar word volgende jaar weer ‘n kamp beplan en enige organisasie of besigheid wat ‘n bydrae wil lewer kan vir Wessie skakel by tel. 082 789 0572 of stuur ‘n e-pos na [email protected]

 

Written by

Riaan de Swardt

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines