ADVERTISEMENT:

 

Belastingskok lê en wag

 

News  Date: 28 March 2008

 

Terwyl munisipale owerhede steeds voortbeur met die vasstelling en goedkeuring van die baie omstrede nuwe waardasierolle, is belastingbetalers steeds in die duister oor presies hoeveel hulle met die implementering van die nuwe eiendomsbelastingsbeleid op 1 Julie vanjaar sal moet betaal.

Waar daar in die verlede slegs munisipale belasting op die erfwaarde (soos laas in 1994 bepaal) gehef is, sal eienaars van eiendom na 1 Julie vanjaar eiendomsbelasting op die totale huidige waarde van die eiendom betaal, wat insluit alle verbeterings wat op die eiendom aangebring is. Wat die situasie egter moeilik maak, is dat niemand, nie eers die Makhado Munisipaliteit, in hierdie stadium blykbaar ‘n aanduiding het van met hoeveel sent in die rand die eiendomsbelasting gehef gaan word nie.

Baie vrees dat die nuwe eiendomsbelastingbeleid dit doodeenvoudig net te duur gaan maak om eiendom te besit of te koop, sou maandelikse betalings aan die Stadsraad met absurde bedrae die hoogte inskiet.

Die Zoutpansberger het die afgelope week, tesame met die Soutpansberg Belastingbetalersverening, bietjie gaan kyk na die waardasierol en ‘n paar sommetjies gemaak. ‘n Paar wonings is geïdentifiseer in Louis Trichardt se verskillende uitbreidings, waarna daar vasgestel is wat huiseienaars tans aan eiendomsbelasting betaal, wat hulle nuwe waardasie is en hoeveel (asook met watter persentasie) hul maandelikse eiendomsbelasting gaan styg. As riglyn is die voorgestelde 0.5 sent (R0.005) in die rand gebruik om berekeninge te doen. Alhoewel daar nie na besigheidspersele gekyk is nie, is die slegte nuus dat hulle, volgens alle aanduidings, tot 1 sent in die rand sal betaal, dubbel dit wat op privaatwonings gehef sal word.

Waar een eienaar van ‘n huis in Schimper singel, oftewel ‘n hoë inkomste woongebied, ook bekend as Skuldbult, tans R291 erfbelasting per maand betaal, sal sy eiendomsbelasting ingevolge die Makhado Munisipaliteit se nuwe waardasie van R1,9 miljoen met 272% opskiet na R791.66 per maand. Aan die ander kant van die dorp is gevind dat een huiseienaar in Rissikstraat se woning volgens die nuwe waardasierol vir R1,5 miljoen gewaardeer is. Dié huiseienaar, wat tans R223 per maand betaal, se maandelikse betalings vir eiendomsbelasting sal met 280% verhoog na R625 per maand.

Vrae ontstaan egter oor hoe presies die waardasies gedoen is, want in dieselfde area as die huis in Rissikstraat, is daar ook gekyk na twee wonings in onderskeidelik Kleynhans- en Wolmaransstraat, wat vir meer as die helfte minder gewaardeer is. Die twee wonings is onderskeidelik vir R600 000 en R650 000 gewaardeer. In die geval van die huiseienaar in Kleyhansstraat, wat tans R38.63 erfbelasting betaal, sal sy nuwe maandelikse betaling met 647% styg na R250 en die huiseienaar in Wolmaranstraat, wat tans dieselfde erfbelasting betaal, se maandeliks eiendomsbelasting styg met 701% na R270.83 per maand. Daar is ook gekyk na twee wonings aan die onderpunt van Munnikstraat, wat onderskeidelik vir R950 000 en R850 000 gewaardeer is volgens die munisipaliteit. Beide huiseienaars betaal tans R163 erfbelasting per maand. In geval van die duurder eiendom sal die eiendomsbelasting met 243% styg na R395.83 per maand, terwyl die eienaar van die goedkoper huis se maandelikse betaling sal styg met 217% na R354.17.

In die nuwe uitbreiding wissel die munisipale waardasieprys ook heelwat. In Leeustraat was daar twee huise wat vir onderskeidelik R700 000 en R720 000 gewaardeer is. Waar die eienaar van die eerste huis tans R141.63 erfbelasting betaal, sal sy maandelikse betalings met 205% styg na R291.67. Die eienaar van die tweede huis betaal tans R107.29 per maand en sy betaling sal met R279% styg na R300 per maand. ‘n Paar straatblokke verder, in onderskeidelik Mopani- en Malvastraat, is daar egter twee wonings wat vir ‘n minimale R400 000 gewaardeer is.

In beide gevalle sal hierdie twee huiseienaars R166.67 moet betaal ingevolge die nuwe eiendomsbelastingbeleid met onderskeidelik ‘n 135% en 134% styging van R123 en R124 per maand tans.

Wat plotte betref, is daar gekyk na drie, naamlik twee by Vondeling en een by Cloud’s End. Die twee Vondeling plotte, beide met groot woonhuise daarop, is onderskeidelik vir ‘n skamele R360 000 en R150 000 gewaardeer, terwyl die plot by Cloud’s End (8,6Ha met drie woonhuise daarop) vir slegs R70 000 gewaardeer is.

Alhoewel dit so is dat huiswaardes ingevolge die verbetering wel in dieselfde areas kan verskil, maak die waardasies volgens mnr. Herman Smith, voorsitter van die Soutpansberg Belastingbetalersvereniging, steeds geen sin nie. Hy het ‘n ernstige vraagteken geplaas oor die wyse waarop die munisipaliteit die waardasies gedoen het.

"Die waardeerder beweer hulle het die waardasies gedoen aan die hand van lugfoto’s, inligting van die Akteskantoor oor onlangse verkope, persoonlike besoeke aan huiseienaars en waardasiesyfers wat aangevra is van eiendomsagente. Ek kon nog geen huis- of ploteienaar opspoor wat aan my kon bevestig dat hulle ‘n besoek van ‘n waardeerder ontvang het nie. So ook het ek al die plaaslike eiendomsagente geskakel en nie een van hulle kon sê of hulle deur ‘n waardeerder genader is nie," sê Smith.

Smith sê uit hulle eie ondersoek is daar bepaal dat al agt die eiendomme in Rivierstraat vir R2 miljoen gewaardeer is, met uitsondering van een wat vir R1,8 miljoen gewaardeer is.

"Dit is tog onmoontlik," sê Smith. In Sesdestraat in Eltivillas is al die huise vir tussen R300 000 en R350 000 gewaardeer.

Smith sê die munisipale waardasies is nie konsekwent nie en dat sommige mense hierdeur bevoordeel gaan word, terwyl ander onregmatiglik benadeel gaan word. Hy het inwoners gemaan om voor 30 April by die munisipaliteit te gaan uitvind wat die waardasies op hul eiendom is en te appelleer indien hulle voel hulle word tenagekom, voordat die waardasierol goedgekeur word.

 

Written by

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines