

ADVERTISEMENT:

News Date: 28 March 2008
Die Appèlhof in Bloemfontein het Donderdag, 20 Maart, die 20-jaar vonnis van ‘n prominente boer van die Musina-omgewing, die 49-jarige Jewel Crossberg, tersyde gestel en vervang met ‘n vonnis van vyf jaar gevangenisstraf.
Crossberg is op 5 April 2007 deur regter Ronnie Boshielo in die hooggeregshof in Polokwane daaraan skuldig bevind dat hy in Junie 2004 ‘n 29-jarige Zimbabwiese man, mnr. Jealous Dube, op sy plaas Vogelenzang met opset doodgeskiet het, asook skote geskiet het op vier van mnr. Dube se kollegas. Ter verdediging het Crossberg aangevoer dat hy onder die indruk was hy skiet op ‘n bobbejaan. Regter Boshielo het egter sy verweer verwerp en Crossberg skuldig bevind op ‘n klag van moord, asook vier van poging tot moord. Hy is dieselfde dag gevonnis tot 20 jaar gevangenisstraf op die klag van moord en vyf jaar gevangenisstraf op elk van die klagte van poging tot moord. Regter Boshielo het ook Crossberg verlof tot appèl teen sy uitspraak geweier. Dit was ten spyte van ‘n aansoek wat Crossberg se regspan drie dae voor die skuldigbevinding gebring het dat die saak uitgegooi moes word op grond van verskeie onreëlmatighede in die saak wat betref die polisie-ondersoek, asook teenstrydighede in die Staat se saak.
Crossberg se regspan, onder leiding van mnr. Hennie Erwee van Erwee Prokureurs in Musina, het ná die skuldigbevinding ‘n borgaansoek by die hooggeregshof in Pretoria ingedien.
"Drie weke later het die aansoek steeds gesloer," het Erwee Dinsdag hierdie week tydens ‘n onderhoud aan die Zoutpansberger gesê.
Crossberg se regspan het toe, in ‘n ongehoorde stap, ‘n borgaansoek direk by die Appèlhof in Bloemfontein gebring, asook ‘n petisie-aansoek teen regter Boshielo se uitspraak. In Augustus verlede jaar is Crossberg se regspan se aansoeke deur die Appèlhof toegestaan.
"Dit is slegs die tweede keer in die geskiedenis dat die Appèlhof ingryp met ‘n borgaansoek," het Erwee gesê.
Crossberg se appèl is in November verlede jaar aangehoor deur ‘n vol bank regters in die Appèlhof, naamlik appèlregters D. Mlambo, M. Navsa, F. Brand, V. Ponnan en F. Malan, met ‘n meerderheidsuitspraak wat verlede Donderdag gelewer is. Appèlregters Navsa, Brand, Ponnan en Malan het regter Boshielo se uitspraak verwerp, terwyl net appèlregter Mlambo die skuldigbevinding en vonnis van regter Boshielo bekragtig het.
In die meerderheidsuitspraak ten gunste van die tersydestelling van Crossberg se vonnis maak Navsa juis melding van die onreëlmatighede in die polisie-ondersoek, asook teenstrydighede in die Staat se saak.
Uitgesluit die 13 polisieverklarings van getuies wat "weggeraak" het, en waarvoor die polisie steeds nie rekenskap kan gee nie, maak Navsa ook melding van verskeie teenstrydighede in die getuienis van die Staat se drie hoof getuies, mnre. Happias Mpofa, Elia Ngulube en Kenneth Molambo, ook almal van Zimbabwe. Dit het onder meer betrekking gehad op die omstandighede wat aanleiding gegee het tot die skietery, waar die skietery plaasgevind het en die hoeveelheid skote wat werklik afgevuur is. In al die gevalle is beslis dat die Staat se weergawe van gebeure onwaarskynlik is.
"Dit is duidelik dat die hof ... fouteer het deur die getuienis van die drie hoof getuies te aanvaar," het Navsa gesê. Hy het bygevoeg dat die drie hoof getuies se weergawe van die gebeure totaal ongeloofwaardig is, heeltemal onwaarskynlik is, teenstrydig is met die objektiewe bewyse en totaal onbetroubaar is.
Crossberg het aanvanklik in ‘n pleitooreenkoms met die Staat probeer skuldig pleit op ‘n klag van strafbare manslag. Die Staat het dit egter van die hand gewys. Verlede Donderdag het die Appèlhof Crossberg gelyk gegee dat die omstandighede in die saak eerder ‘n skuldigbevinding aan strafbare manslag regverdig. Sy 20-jaar vonnis is derhalwe tersyde gestel. ‘n Pleit van skuldig op ‘n klag van strafbare manslag is aanvaar en Crossberg is derhalwe gevonnis tot vyf jaar gevangenisstraf waarvan twee jaar opgeskort is vir ‘n periode van vyf jaar.
"Ek is tevrede met die uitspraak, alhoewel ons graag ‘n ligter straf sou wou gehad het. In effek is dit ‘drie jaar gevangenisstraf, waarvan hy reeds vyf maande uitgedien het," het Erwee gesê.
Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

ADVERTISEMENT:
