

ADVERTISEMENT:

News Date: 28 March 2008
Die Departement Omgewingsake het Dinsdag gerugte hokgeslaan dat gif in die water die oorsaak is van visvrektes by die Middel Letabadam, sowat 60km vanaf Louis Trichardt.
Gerugte doen tans die ronde dat van die plaaslike gemeenskappe aangrensend tot die dam vermoedelik gif in die dam gegooi het, nadat nette wat vir onwettige hengel gebruik word daar gevind en vernietig is. Die Middel Letabadam is ‘n baie gewilde hengelbestemming vir hengelaars vanoor die hele streek.
Visvrektes by damme en die moontlike oorsake daarvan het die afgelope jaar telkens opspraak verwek. In die geval van Loskopdam is tonne vis verlede jaar dood as gevolg van wat baie toegeskryf het aan rioolbesoedeling. Visvrektes het verlede jaar ook in die Bronkhorstspruitdam en nader aan die huis by die Arabiedam voorgekom.
Mnr. Tiny Sinden van die Departement Omgewingsake het egter Dinsdag gesê dat hulle bewus is van die vis wat sedert verlede naweek begin vrek het, maar dat daar geen bewyse is dat gifstowwe in die water die oorsaak van die vrektes is nie. Hy sê slegs een spesie vis, naamlik kurpers, van min of meer dieselfde grootte, het gevrek. Sou daar gif in die water wees, is die gevoel dat dit alle visspesies nadelig sou beïnvloed het.
‘n Kollega van Sinden en viskundige by die departement in Polokwane, mnr. Mike Angliss, het met Sinden saamgestem en gesê dat visvrektes nie ‘n ongewone verskynsel by damme is nie. Hy meen visvrektes kan toegeskryf word aan talle normale faktore soos onder meer weerlig wat die water getref het, skielike wisselings in die temperatuur van die water weens gure weersomstandighede, en ‘n tekort aan suurstof, soos wat die geval was by die Molatedidam toe die vlak van die dam tot 5% gedaal het. Die vlak van die Middel Letabadam is verlede week deur die Departement van Waterwese aangedui is 16,5% in vergelyking met die 25,5% in die ooreenstemmende tyd verlede jaar.
"Daar is geen werklike rede tot kommer in hierdie stadium nie. Ons grootste bekommernis is egter dat mense nie van die dooie vis moet optel of eet nie," het Angliss gesê. Hy het bygevoeg dat dit ook nie ‘n groot hoeveelheid vis is wat gevrek het nie.
Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

ADVERTISEMENT:
