

ADVERTISEMENT:

News Date: 04 April 2008
Die burgemeester van die Makhado Munisipaliteit, rdl. Glory Mashaba, wou haar Woensdag nie te veel uitlaat oor ernstige aantygings rakende die beweerde wanbestuur van openbare fondse deur senior amptenare van die munisipaliteit nie.
Die Zoutpansberger het die afgelope week te hore gekom van aantygings waarin onder meer die Raad se munisipale bestuurder, me. Faith Muthambi, verbind word met die beweerde oorbetaling van openbare fondse aan ‘n kontrakteur.
Volgens inligting hou die aantygings verband met ‘n tender wat in Oktober 2006 toegeken is aan ‘n kontrakteur vir die rehabilitasie van strate op Waterval. Dokumentasie in die koerant se besit bevestig die toekenning van die tender (tender nommer 25 van 2006) aan die kontrakteur, wat ook tot onlangs toe ‘n persoonlike vriend van me. Muthambi was.
Die totale waarde van die vier-en-‘n-halwe maande kontrak was R3 788 303.53, wat ingesluit het ‘n 10% speling vir onvoorsiene uitgawes en 14% BTW.
‘n Jaar en ‘n half later het die kontrakteur steeds betaling vir die kontrak, wat nog nooit voltooi is nie, vanaf die Raad ontvang. Die aantygings van wanbestuur spruit juis uit hierdie betalings. Melding word gemaak van 12 betalings wat aan die kontrakteur vir die onvoltooide projek gemaak is, tot en met Desember verlede jaar. Daar word beweer dat heelwat meer geld, tot sowat R2,1 miljoen meer, aan die kontrakteur oorbetaal is as wat die aanvanklike tenderbedrag was. Een anonieme bron het verduidelik dat waar betalings aan die kontrakteur gemaak is, daar weer 14% BTW ekstra betaal is, alhoewel dit in die aanvanklike bedrag ingesluit was. Twaalf bedrae word genoem met tjeknommers vir meeste van die betalings. Van die beweerde oorbetalings wat gemaak is sluit in ‘n begrote betaling van R986 733.97, maar op die ou end het die kontrakteur R1 124 876.73 ontvang. In ‘n ander geval word beweer dat die kontrakteur R625 099.75 moes ontvang, maar R712 613.71 is aan hom oorbetaal. Dit kon egter nie bevestig word of al twaalf betalings aan die kontrakteur gemaak is ten opsigte van net die kontrak by Waterval nie.
Rdl. Mashaba het by navraag Woensdag die Zoutpansberger verwys na ‘n raadsbesluit oor die aangeleentheid wat klaarblyklik tydens hul raadsvergadering op Maandag, 31 Maart, geneem is. Toe die koerant haar meedeel dat die saak as ‘n vertroulike item gehanteer is en die inligting derhalwe nie aan die koerant of publiek beskikbaar is nie, het rdl. Mashaba bloot gesê die aantygings teen me. Muthambi word intern deur die Raad hanteer. Sy was bewus van die aantygings, maar wou nie verder daarop uitbrei nie, aangesien sy nog vir ‘n verslag gewag het oor die aangeleentheid. Rdl. Mashaba het ook genoem dat hulle Donderdag ‘n amptelike ondersoek na die beweringe sal begin. Volgens haar is daar in hierdie stadium geen sprake dat me. Muthambi dalk tydelik geskors gaan word, hangende die uitslag van die ondersoek, nie.
Tydens ‘n oproep na die kantoor van die munisipale bestuurder vroeër hierdie week is die Zoutpansberger meegedeel dat sy vir ‘n week nie beskikbaar sal wees nie.
Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

ADVERTISEMENT:
