

ADVERTISEMENT:

News Date: 04 April 2008
Wat is die huidige finansiële status van die Makhado Munisipaliteit en is hulle weer besig om af te stuur op ‘n krisis, soos in 2004, toe hulle op die laaste oomblik geld moes leen om hul September-salarisse te betaal?
Na afloop van die munisipale Raadsvergadering einde Februarie vanjaar het onder meer die Soutpansberg Landbou-unie hulle kommer uitgespreek oor die Raad se onvermoë om skuld te vorder, asook gerugte dat hulle vir die eerste keer in die Raad se geskiedenis oorweeg om aansoek te doen vir ‘n R20 miljoen oortrokke fasiliteit.
Die Raad se munisipale woordvoerder het in antwoord hierop bevestig dat die Raad se uitstaande skuld in daardie stadium R59,9 miljoen beloop het, waarvan R51 miljoen ouer as 120 dae was. Hy het dit egter baie duidelik gestel dat die Raad nie aansoek gedoen het vir ‘n oortrokkefasiliteit van R20 miljoen en dat daar geen sprake is van ‘n herhaling van die Raad se finansiële krisis van 2004 nie.
Meer vrae oor die Raad se finansies het egter kort daarna ontstaan, nadat dit aan die lig gekom het dat hulle in hul 2007/8 aanpassingsbegroting nou skielik vir ‘n tekort van meer as R54 miljoen begroot. In die aanvanklike begroting is begroot vir ‘n inkomste van R247 400 066 en ‘n totale uitgawe van R285 769 017. In hul aanpassingsbegroting is die totale inkomste gewysig na R245 850 679 en ‘n totale uitgawe van R300 245 000.
Ter verduidelik het die Raad Woensdag in ‘n verklaring gesê die tekort is hoofsaaklik teweeg gebring vanweë die nuwe munisipale boekhoustelsel (GAMAP/GRAP) wat sedert die aanvanklike goedkeuring van die begroting in werking getree het. Waar die Raad is die verlede slegs gewerk het op die historiese waarde van bates (dit wil sê die bate se waarde was altyd dieselfde as die oorspronklike aankoopbedrag), verplig die nuwe boekhoustelsel nou die Raad om waardevermindering toe te pas om hulle in staat te stel om na ‘n bepaalde tydperk daardie bate te kan vervang. Die Raad sê verder dat die waardevermindering slegs ‘n rekenkundige inskrywing is, dit wil sê dit het nie ‘n invloed op die Raad se kontantvloei nie.
Waardevermindering blyk egter nie die enigste rede te wees waarom daar ‘n vermindering in die geprojekteerde inkomste was nie. Die Raad se onvermoë om doeltreffend skuld te vorder blyk ook ‘n probleem te wees. So word daar jaarliks begroot vir miljoene rande se inkomste uit die voormalige 293-woongebiede om Louis Trichardt, maar aangesien feitlik geen geld uiteindelik deur hierdie inwoners betaal of deur die Raad ingevorder word nie, word die skuld telkens afgeskryf. Baie mense beweer dat die Raad net hierdie "inkomste" in hul begroting inbring om hul syfers beter te laat lyk sodat verhogings in salarisse en toelaes later geregverdig kan word. In antwoord hierop het die Raad in hul verklaring gesê dat hul begroting nie op werklike kontantinkomste gebaseer word nie, maar op ‘n geprojekteerde inkomste ten opsigte van heffings. Die Raad wou nie reageer op ‘n vraag rakende die persentasie inkomste wat jaarliks uit die 293-woongebiede gevorder word nie, en ook nie op ‘n vraag waarom dit telkens in die begroting ingebring word as ‘n inkomste, net om dit uiteindelik weer af te skryf nie.
In teenstelling met die verlaging in inkomste was daar ‘n toename in uitgawes in die aanpassingsbegroting. ‘n Verhoging in die maandelikse toelaes van raadslede dra onder meer by tot die styging in uitgawes.
In die aanpassingsbegroting word voorsiening gemaak vir ‘n tweede verhoging (buiten die een waarvoor in die aanvanklike 2007/8 finansiële jaar begroot is) van toelaes van 7,5% met terugwerkende effek van 1 Julie 2007. Dit is nie duidelik hoe hierdie verhoging toegelaat kon word nie of gefinansier gaan word nie, aangesien munisipale wetgewing ten opsigte van raadslede bepaal dat die finansiële toestand van ‘n munisipaliteit altyd eerste in aanmerking geneem moet word wanneer salarisverhogings oorweeg word.
Wat raadslede se toelaes betref, kan lesers maar self die sommetjies maak. Hou in gedagte dat daar 76 raadslede is en waar een raadslid op 24 April 2006 ‘n maandelikse toelae van R4 881,89 gekry het, het die toelae intussen verdubbel na meer as R10 000 per maand. Dit sluit nie die verhoging van die salarisse/toelaes van onder meer die burgemeester, munisipale bestuurder, Speaker en die 10 lede van die uitvoerende komitee, waarvan drie voltyds is, in nie. Vir die periode 1 Julie 2006 tot 1 Julie 2007 het die burgemeester sowat R350 000 per jaar verdien plus byvoordele in die omgewing van R190 000. Vir dieselfde tydperk het die munisipale bestuurder R411 756 per jaar verdien plus byvoordele van meer as R300 000, terwyl die Speaker R279 400 ontvang het plus byvoordele van net meer as R150 000. Die salarisse van die drie voltydse raadslede was R261 939 plus voordele van sowat R140 000, terwyl die ander gewone lede van die uitvoerende komitee R144 066 plus byvoordele van digby R80 000 ontvang het. Kortliks het die Raad se uitgawes ten opsigte van raadslede se toelaes in die aanpassingsbegroting van R12,557 miljoen gestyg na R14,294 miljoen, terwyl die totale uitgawes vir die salarisse, lone en toelaes van ander raadsamptenare gestyg het van net meer as R110 miljoen tot amper R114 miljoen. In dokumentasie wat tydens Maandag, 31 Maart, se raadsvergadering voor die Raad gedien het, sal die salarisrekening vir amptenare vir die 2008/9 boekjaar opskuif na meer as R125 miljoen, terwyl daar begroot word vir ‘n salarisrekening vir raadslede van meer as R15 miljoen.
Die groot vraag in almal se gemoed blyk egter te wees wat belastingbetalers en inwoners in ruil ontvang het wat die salarisrekening van die Raad kan regverdig. Met die toestand van die dorp se strate, watervoorsieningsnetwerk en rioolstelsel, het mnr. Herman Smith, voorsitter van die Soutpansberg Belastingbetalersvereniging, inwoners gemaan dat dinge eerder sal slegter as beter word. Met ‘n totale inkomste van maar net meer as R285 miljoen vir die 2008/9-begroting en ‘n begrote uitgawe van sowat R340 miljoen vir dieselfde tydperk, is dit onduidelik hoe die Raad sy syfers gaan laat klop. Waardevermindering blyk egter weer ‘n rol te speel ten opsigte van die groot gaping tussen die inkomstes en uitgawes.
Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

ADVERTISEMENT:
