

ADVERTISEMENT:

News Date: 04 April 2008
Inwoners het die afgelope naweek vir die soveelste keer sonder water gesit, nadat ‘n werknemer van die munisipaliteit na bewering ‘n oordeelsfout begaan het en ‘n toevoerkraan te vinnig oopgedraai het. Die gevolg was dat die pypleiding nie die vinnige druktoename kon hanteer nie, wat ‘n pyp laat bars het.
Volgens ‘n amptenaar van die munisipaliteit het een van die pompe wat water van die Albasinidam na die dorp pomp, uitgebrand as gevolg van die ses-uur-lange kragonderbreking wat Donderdag voorgekom het (sien berig elders in die koerant). Die gevolg hiervan was dat een van die opgaardamme leeggeloop het. Nadat die pomp herstel is, moes die kraan by die kruising van Tshirululuni- en Leeustraat toegedraai word om die opgaardam te laat vol loop.
Die beginsel is dat sulke toevoerkrane stadig oopgedraai moet word en voldoende brandkrane en ander uitlate oopgemaak moet word sodat die lug in die pype stelselmatig kan ontsnap alvorens die watertoevoer weer begin vloei. Klaarblyklik het die persoon in beheer daarvan die toevoer te vinnig oopgedraai, met die gevolg dat die skielike drukvermeerdering ‘n pyp laat bars het. Nadat die pyp herstel is, is die toevoerkraan weer oopgedraai, dié keer stadig genoeg, en die water kon deur die stelsel begin beweeg.
Hoewel dorpenaars dankbaar was vir die feit dat hulle weer water gehad het, moes hulle egter verlief neem met die feit dat die water allesbehalwe skoon was. Die kleur van die water het gewissel van ligbruin tot swart, afhangende van waar mens die kraan oopgedraai het. Die sediment onder in die opgaardam het in die pype beland met die leegloop van dié dam. Volgens die amptenaar is dit bykans onmoontlik om sodanige sediment uit die pype en van die bodem van die opgaardam te verwyder, aangesien dit heelwat swaarder is as die water en geneig is om op die bodem van die dam of onder in die pype te gaan lê. Dit moet op natuurlike wyse deur die stelsel beweeg en by die verskillende eindpunte (lees huishoudelike krane) uitloop totdat dit alles weggespoel het.
Inwoners moet hulleself daarop voorberei dat hierdie situasie, net soos die Eskom fiasko en die haglike toestand van die dorp se paaie, nie gou opgelos gaan word nie. Volgens inligting word geen voorsiening gemaak vir toerusting wat onklaar kan raak en deur bystand toerusting vervang kan word nie. Indien ‘n krisis soos hierdie ontstaan, waar ‘n pomp uitbrand, moet die amptenare probeer om die foutiewe toerusting te herstel of om desnoods ‘n alternatiewe oplossing te vind, bv. deur inderhaas van iewers anders die nodige toerusting te probeer bekom. Dit is nie altyd moontlik nie en besorg aan die amptenare wat die instandhoudingswerk moet doen eindelose probleme. In hierdie stadium bestaan die onderhoudspanne se werk uit krisisbestuur, waar hulle van een probleempunt na die ander moet haas om die verbrokkelende infrastruktuur te lap soos en waar hulle kan.

ADVERTISEMENT:
