

ADVERTISEMENT:

News Date: 04 April 2008
Vir ‘n verandering was Eskom nie hierdie keer direk verantwoordelik vir die feit dat Louis Trichardt verlede Donderdag vir ongeveer ses ure sonder elektrisiteit gesit het nie.
Dié keer was die onderbreking tewyte aan ‘n stamgeleier wat dwars oor die drie parallelle uitgaande toevoerlyne geval het, wat ‘n kortsluiting veroorsaak en al drie lyne gelyktydig uitgeskakel het.
Volgens ‘n werknemer van die plaaslike tak van Eskom verskaf dié drie parallelle lyne krag vanaf die substasie aan die munisipaliteit. Die persoon wou nie spekuleer waarom die stamgeleier gebreek en oor die lyne geval het nie, maar het erken dat dit moontlik as gevolg van die voortdurende beurtkragonderbrekings kon wees. Gelukkig het die tak voorsiening gemaak vir addisionele materiaal wat in sulke gevalle aangewend kan word om die probleem op te los. Drie spanne werkers is op ‘n voltydse basis beskikbaar om uitgestuur te word om aan sodanige probleme aandag te gee. Sodanige herstelwerk neem baie tyd en die skade is binne ‘n redelike kort tydperk herstel.
Die persoon het ook aangedui dat die substasie in Oktober verlede jaar deeglik nagegaan is om enige potensiële "warm" verbindings, dit wil sê verbindings wat agteruit gegaan het, te identifiseer en te vervang. Daardeur is die substasie opgegradeer, wat die jaarlikse onderhoud van die substasie vergemaklik. Tans kom die meeste probleme met kraglewering merendeels aan die kant van die munisipaliteit voor, hoewel die wisselwerking tussen Eskom se plaaslike tak en die munisipaliteit se elektrisiteitsafdeling goed is.

ADVERTISEMENT:
