

ADVERTISEMENT:

News Date: 19 November 2004
MAKHADO (LOUIS TRICHARDT) - Minute na die Staat hul saak teen Ronnie Sutherland en medebeskuldigde Dawid Ras Maandag in die plaaslike landdroshof teruggetrek het, is hulle weer formeel gedagvaar om op 30 November op dieselfde klagte in die hof te verskyn.
Die Staat se saak teen Sutherland en Ras hou verband met klagtes van bedrog en korrupsie. Hulle word daarvan beskuldig dat hulle lugmagmasjinerie vir eie gewin gebruik het, asook ongerymdhede rakende dienskontrakte vir LMB Makhado (Louis Trichardt). Die saak teen Sutherland en Ras sloer reeds amper ‘n jaar.
Sutherland se regsverteenwoordiger, Charles Pieterse, het Dinsdag gesê dat die saak teen sy kliënt teruggetrek is, aangesien die staat nie betyds bewysstukke aan die verdediging kon beskikbaar stel wat skriftelik aangevra is nie. Hy het sy ongelukkigheid uitgespreek oor die manier waarop die saak teen sy kliënt hanteer word en aangevoer dat die Staat geld mors in die proses. Hy sê dit kos sy kliënt baie geld om telkens by die hof te wees. Intussen, sê hy, wag hulle steeds vir die bewysstukke wat hulle aangevra het.
“Wat gaan op 30 November gebeur? Gaan ons maar net weer geld mors of gaan hulle die saak maar net weer terugtrek? Ons voel die staat sloer in die saak en dit kan nie so voortgaan nie,” sê Pieterse.
Mnr. Reino Mostert (plaaslike beheeraanklaer) het Woensdag hom heftig uitgespreek teenoor die verdediging se beskuldiging dat dit die Staat is wat sloer in die saak.
“Ek ontken ten sterkste dat die vertraging in die saak die Staat se skuld is. In meeste gevalle is die saak op versoek van die verdediging uitgestel. Verder beskou ek nie die koerant as ‘n forum om die aangeleentheid te bespreek nie en mnr. Pieterse kan die probleem in die hof aanspreek,” sê mnr. Mostert.
Mnr. Mostert sê dat Maandag se terugtrek en heropening van die saak teen Sutherland geensins die Staat se saak beïnvloed nie. Dit gee aan hulle die geleentheid om van nuuts af voort te gaan. Hy het bygevoeg dat die terugtrek van ‘n saak slegs ‘n voorlopige prosedure is en dat sulke sake te enige tyd weer geopen kan word.
Intussen het Sutherland die kantoor van die koerant geskakel en versoek dat mense moet ophou om stories oor hom te versprei. Hy sê sy besigheid het reeds baie skade gely in die proses en hou vol dat hy totaal onskuldig veroordeel word.
Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

ADVERTISEMENT:
