ADVERTISEMENT:

 

Wyle Wikus Lombard (28).

Jong man by hospitaal doodgeskok

 

News  Date: 11 April 2008

 

‘n Jong inwoner van Louis Trichardt, die 28-jarige mnr. Wikus Lombard, is verlede Donderdag (3de) tydens ‘n fratsongeluk op die perseel van die Louis Trichardt Gedenkhospitaal doodgeskok.

Wikus se werkgewer, mnr. Henk de Swardt van Belta Services, het na die ongeluk gesê Wikus was besig met die installasie van ‘n nuwe steriliseerder by die hospitaal. In ‘n stadium het hy egter per ongeluk een van die steriliseerder se komponente op ‘n gewone 220V-verlengkoord, wat hy oor die vloer uitgegooi het, neergesit. Hy was nie daarvan bewus nie, maar in die proses het die komponent die beskermende omhulsel van die verlengkoord beskadig.

"In plaas daarvan dat die aardlekasieskakelaars afgeskop het, het alles waaraan Wikus gewerk het, lewendig geword," sê De Swardt. Dit is nie seker waarom die hospitaal se aardlekasieskakelaars nie gewerk het nie.

Die een masjien waaraan Wikus gewerk het, het op isolerende teëls gestaan, terwyl die ander deel reeds geaard was. Hy is doodgeskok toe hy klaarblyklik terselfdertyd aan beide masjiene geraak het.

Die fratsongeluk het tussen 14:00 en 16:00 dié noodlottige dag plaasgevind.

"Ons is nie presies seker hoe laat dit was nie, want Wikus het alleen gewerk. Hy het maar net pype (water- en dreineringspype) gedoen en het glad nie eers met die krag gewerk nie ... dit was maar basiese loodgieterswerk," sê De Swardt.

Wikus se pa, mnr. Jan Lombard, het op sy seun se liggaam afgekom. Hy het na sy seun gaan soek toe hulle hom nie op sy selfoon in die hande kon kry nie. Wikus en sy pa het beide by Belta Services gewerk, met Wikus wat loodgieterswerk gedoen het en sy pa ‘n elektrisiën.

De Swardt sê dat die ongeluk tans ondersoek word deur die Departement van Mannekrag, asook die Suid-Afrikaanse Polisiediens. Die ondersoek sal dalk meer lig kan werp op die omstandighede wat aanleiding gegee het tot Lombard se dood.

‘n Roudiens is Sondag, 6 April, om 13:00 vanuit die NG Kerk Soutpansberg-gemeente gehou. Hy word oorleef deur sy vrou, Andrea, sy ouers, Jan en Hetta, en ‘n broer en suster.

"Ons wil net vir almal baie dankie sê wat ons bygestaan het na afloop van Wikus se dood. Ons waardeer dit opreg. Die gebede en ondersteuning het ons gedra en sal ons steeds dra in die tyd wat kom," het Jan namens homself, Hetta en Andrea gesê.

 

Written by

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines