

ADVERTISEMENT:

News Date: 11 April 2008
Die Makhado Munisipaliteit het verlede Donderdag (3de) na die verskyning van die Zoutpansberger se voorbladberig, waarin die dorp se munisipale bestuurder verbind word met die beweerde wanbestuur van belastingbetalers se geld, ‘n twee-bladsy verklaring oor onder meer dié aangeleentheid uitgereik.
Die berig het gevolg op aantygings dat die munisipale bestuurder, me. Faith Muthambi, verbind word met die beweerde "oorbetaling" van ‘n kontrakteur vir ‘n kontrak wat hy nooit voltooi het nie. Daar word beweer dat die kontrakteur, klaarblyklik tot onlangs toe ‘n goeie vriend van haar, meer as R2 miljoen meer ontvang het as die aanvanklike tenderbedrag. Die tender, wat in Oktober 2006 aan hom toegestaan is, het te make gehad met die herstel van paaie op Waterval. Dit was ‘n vier-en-‘n-half maande kontrak, maar volgens inligting het die kontrakteur tot einde Desember 2007 nog betaling hiervoor ontvang.
Aanvanklik wou die dorp se burgemeester, rdl. Glory Mashaba, haar nie veel uitlaat oor die beweringe nie. Sy het slegs bevestig dat daar wel aantygings teen Muthambi gemaak is, maar het gesê dat die munisipale raad vir eers die aantygings intern wil ondersoek.
In die verklaring wat Donderdag ontvang is, noem Bobodi dat dit op rekord geplaas moet word dat Muthambi nie deel is van die Raad se keuringskomitee wat besluit oor die toekenning van tenders nie. Dus, skryf Bobodi in die verklaring, hou die bewering dat die kontrakteur ‘n persoonlike vriend van die munisipale bestuurder is geen water in hierdie geval nie. Alhoewel Muthambi die administratiewe hoof van die munisipaliteit is, het Bobodi verduidelik dat dit die onderskeie departementshoofde is wat aanbevelings aan die keuringskomitee maak, waarna die komitee ‘n besluit neem oor die toekenning van ‘n tender.
Wat die betrokke tenderkontrak betref, bevestig Bobodi dat die munisipaliteit die tender van R3 788 303.53 aan die betrokke kontrakteur toegeken het, maar voeg by dat die bedrag wat oorspronklik deur die Departement van Plaaslike Regering vir die projek goedgekeur is, R5,6 miljoen beloop het. Uit sy verduideliking blyk dit dat ekstra werk, wat na die tyd by die kontrak gevoeg is, die aanvanklike tenderbedrag opgejaag het. Dit is nie seker of dit die verduideliking is waarom die kontrakteur, ten spyte van die swak gehalte van sy werk en die feit dat hy nie eers die kontrak voltooi het nie, ‘n beweerde bedrag van net meer as R5,3 miljoen op die einde ontvang het nie.
Bobodi het ook bevestig dat die munisipaliteit intussen hul kontrak met die betrokke kontrakteur beëindig het. Volgens hom sal die oorblywende retensiefooie van die kontrak aangewend word om die swak gehalte van die kontrakteur se werk aan te spreek. Tenders in verband hiermee is klaarblyklik reeds geadverteer.
In hierdie stadium is dit nie seker hoe ver die munisipaliteit se ondersoek insake die aantygings teen Muthambi gevorder het nie. In ‘n poging om nog meer duidelikheid oor die saak te kry, het die Zoutpansberger Maandag ‘n tweede lys skriftelike vrae aan Bobodi gestuur. Bobodi het Dinsdag ontvangs erken van die vrae, maar het genoem dat die betrokke persone wat daarop antwoorde kan verskaf in daardie stadium nie beskikbaar was nie. Teen druktyd is nog geen terugvoer ontvang nie. Die vrae het onder meer ingesluit waarom die Raad aangehou het om die kontrakteur te betaal as hulle bewus was van die swak gehalte van sy werk, wat die totale bedrag is wat uiteindelik aan die kontrakteur oorbetaal is en wanneer die laaste betaling aan die kontrakteur gemaak is.
Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

ADVERTISEMENT:
