

ADVERTISEMENT:

News Date: 11 April 2008
Uitspraak is Vrydag, 4 April, gelewer tydens ‘n sitting van die Hooggeregshof op Louis Trichardt in die opspraakwekkende dubbele moordsaak van die Hayward-egpaar van die Mountian View Hotel in 2004.
Die gru-moord van bekende sakepersoonlikhede Clint (35) en Michelle (37) Hayward het nie net skokgolwe deur die plaaslike gemeenskap gestuur, maar ook op nasionale vlak aandag gevestig op ‘n ondraaglike misdaadsituasie hier in die Soutpansberg. Verskeie moorde en aanvalle op inwoners het in dieselfde tydperk plaasgevind, waaronder die moord op die welbekende plaasboer mnr. Martin Armitage (66). Armitage se lyk is met ‘n koëlwond by sy plaasingang gevind. Tot op hede is nog niemand in verband met sy moord aangekeer nie.
Die Hayward-egpaar is gedurende die aand van 20 Oktober 2004 koelbloedig in hul slaapkamer van hul woning aangrensend tot die hotel doodgeskiet. Hul 12-jarige dogter, Tamryn, het die volgende oggend op hul liggame afgekom.
Twee Zimbabwiese mans, Themba Thomas Chirume (20) en Liberty Marumo (18), is aangekeer en saam met ‘n derde Zimbabwiese verdagte, Jason Muleya Chadhebha (25), van dié grumoord aangekla. Chadhebha is egter terug Zimbabwe toe. Die Staat het na maande se gespook om Chadhebha aan Suid-Afrika uitgelewer te kry, uiteindelik toestemming gekry. Toe lede van Interpol egter einde verlede jaar in Zimbabwe opdaag, was daar geen teken van Chadhebha nie. Daar is toe besluit om voort te gaan met die saak teen Chirume and Maruma en Chadhebha in sy afwesigheid te verhoor. Die klagtes teen die drie het onder meer ingesluit moord, poging tot moord, huisbraak met verswarende omstandighede, huisbraak met die doel om te steel en ernstig te beseer, die onwettige besit van ‘n vuurwapen en die onwettige besit van ammunisie.
Die Staat het op 12 Maart vanjaar hul saak teen Chirume en Marumo afgesluit, waarna dit uitgestel is na 3 en 4 April vir afhandeling. Vrydag is beide Chirume en Marumo skuldig bevind aan die gru-daad en elk tot lewenslange gevangenisstraf gevonnis, asook ‘n verdere 55 jaar op die ander aanklagte.

ADVERTISEMENT:
