

ADVERTISEMENT:

News Date: 11 April 2008
Gebeurlikheidsplanne is in plek om noodverblyf te kan verskaf op Musina indien daar ‘n skielike uittog uit Zimbabwe sou ontstaan in die huidige ontwrigting, spanning en verwarring wat deur die vertraagde verkiesingsuitslae en plaasbesettings veroorsaak word. Private instansies, asook die Musina Munisipaliteit, in samewerking met verskeie staatsdepartemente, is gereed vir so ‘n gebeurlikheid.
Die kommunikasiebeampte van die Musina Munisipaliteit, mnr. Wilson Dzebu, het hierdie week by navraag bevestig dat, ingevolge ‘n bestaande noodplan, grond op die dorpsmeent reeds geïdentifiseer is waar tente en ander tydelike geriewe verskaf kan word in geval van ‘n noodtoestand. Hy het beklemtoon dat dit nie ‘n vlugtelingkamp is nie en dat daar nog nie amptelik sprake van ‘n rampsituasie is nie.
Te midde van toenemende berigte van hernieude georganiseerde besettings van blanke plase in die suide van Zimbabwe deur sogenaamde "oorlogsveterane," het besorgde inwoners van Musina ook reeds begin met voorbereidings om huisvesting by private wonings op die dorp te verskaf aan gesinne wat deur dié aanvalle van hul plase verdryf word. Volgens radioberigte is 60 blanke plase in die jongste vlaag besettings betrokke. Die afgelope week is mense per SMS opgeroep tot voorbidding vir die veiligheid van gesinne wat op hierdie wyse geterroriseer word.
Mev. Christelle du Plessis van Musina, wat die private hulpprojek op die dorp koördineer, het vandeesweek bevestig dat talle besorgde inwoners van die dorp reeds aangebied het om noodverblyf aan ontwrigte gesinne vanuit Zimbabwe op die dorp beskikbaar te stel. Tot dusver was daar nog nie sulke gevalle nie.
"Ons is gereed om op kort kennisgewing hulp te kan verleen. Ons het mense wat die situasie by die Beitbrug grenspos moniteer en ontwrigte gesinne of gesinslede met ons in verbinding kan stel, sodat ons hulle na die adresse kan neem waar hulle gehelp kan word. Die reaksie van inwoners wat bereid is om te help, is oorweldigend. Ons datalys sluit selfs ‘n persoon in wat bereid is om die sitkamer van ‘n een-slaapkamer woonstel beskikbaar te stel," sê mev. Du Plessis.
Die nommer waarby hulp aangebied kan word, is 079 628 7275.
Frans van der Merwe is a freelance journalist with more than 40 years experience in the newspaper industry. Apart from newspaper reporting, he was also involved with radio news, news reading, training and marketing. He has been living and working in Louis Trichardt since 1991.

ADVERTISEMENT:
