ADVERTISEMENT:

 

Die digte stand van Sesbania spinosa in die padreserwe langs die N1 net noord van Louis Trichardt. Die kenmerkende lang, dun, silindriese saadpeule is duidelik sigbaar. Dit is ´n inheemse toenemerplant wat hoofsaaklik op versteurde, sanderige grond in vogtige toestande groei.

"Uitheemse indringerplant" toe al die tyd inheemse helper

 

News  Date: 18 April 2008

 

Kommer oor groot, digte kolonies van hoë, snelgroeiende groen plante met geel blomme langs die N1 net noord van Louis Trichardt is vandeesweek besweer deur verteenwoordigers van Omgewingsake en ‘n plaaslike plantkenner.

Die skielike verskyning van ‘n digte stand van ‘n betreklik onbekende plantsoort in die padreserwe skuins oorkant die sandstuitput vir swaar voertuie noord van Louis Trichardt het kommer by opmerksame motoriste en plaaslike omgewingsbewuste mense laat ontstaan dat dit dalk gevaarlike uitheemse indringerplante kan wees, wat deur swaar voertuie van elders hierheen gebring is en dringende aandag mag verg omdat dit opvallend uiters vinnig versprei. Die plante staan twee tot drie meter hoog en vorm digte bosse langs die pad.

Prof. Dries Bester, ‘n bekende plaaslike plantkundige, het vandeesweek Omgewingsake se voorlopige identifikasie van die plant bevestig. Dit is uitgeken as Sesbania spinosa, ‘n inheemse "toenemer" plant, wat hoofsaaklik op versteurde, sanderige grond in vogtige areas voorkom. Dit groei hoofsaaklik in ‘n gordel wat strek van Pafuri tot by Levubu. Die plant het veeragtige, vertakte blare, is doringloos met lang, slanke, gladde stamme. Dit dra gelerige blomme wat ontwikkel in besonder lang, dun, silindriese saadpeule. As die plant gekneus word, het dit ‘n skerp bitter reuk.

"Hoewel die vinnig-groeiende eienskap van die plant en die hoë en digte kolonies wat dit vorm dit maklik kan laat lyk soos ‘n vreemde indringerplant, is Sesbania spinosa eintlik ‘n baie nuttige plant weens sy vermoë om versteurde grond weer te bind en te beskerm teen erosie. Die plant het nie ‘n lang leeftyd nie en dien as grondstabiliseerder en tussentydse beskutting vir ‘n reeks andere nuttige plante en blomme om onder hom te kan ontkiem en gedy. Die enigste gevaar wat ‘n digte stand van die plante kan inhou, wanneer hulle droog is, is ‘n moontlike brandgevaar," sê prof. Bester.

 

Written by

Frans van der Merwe

Frans van der Merwe is a freelance journalist with more than 40 years experience in the newspaper industry. Apart from newspaper reporting, he was also involved with radio news, news reading, training and marketing. He has been living and working in Louis Trichardt since 1991.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines