

ADVERTISEMENT:

News Date: 25 April 2008
Die twee Zimbabwiese mans, Leo Moyo (24) en Calvin Dube (25), wat aangekla is vir die aanval op die Van Rensburg-egpaar van Waterpoort in Junie 2006, is Vrydag, 4 April, elk tot 20 jaar gevangenisstraf gevonnis.
Die twee is skuldig bevind op die klag in die streekhof op Louis Trichardt. Hulle het tereggestaan op klagte van gewapende roof, die besit van gesteelde goedere asook die onwettige besit van vuurwapens en ammunisie.
Die aanval het op 3 Junie 2006 op die plaas Klein Diamant naby Waterpoort plaasgevind.
Dit was vroeg die oggend toe die mans die Van Rensburg-egpaar oorrompel het. Die egpaar is geslaan en vasgebind, waarna Moyo en Dube met ‘n gesteelde vuurwapen, juwele, geld en selfone op die vlug geslaan het. Die Van Rensburgs se Isuzu-bakkie is ook gesteel.
Die plaaswag is kort na die voorval geaktiveer, maar kon nie die bakkie opspoor nie. Later is Moyo en Dube deur twee polisiebeamptes wat net van diens af gekom het in Polokwane opgemerk. Die polisiebeamptes het besluit om die twee te deursoek, aangesien hulle verdag voorgekom het. Moyo en Dube het egter op die vlug geslaan. Versterkings is ingeroep en die twee mans is aangekeer. Die een verdagte het die gesteelde juwele gehad, terwyl die ander ene die vuurwapen asook die bakkie se sleutels in sy besit gehad het.
Nadat die polsie die lys van gesteelde goedere gesirkuleer het, is daar vasgestel dat dit tydens die rooftog op Waterpoort gesteel is.
Die van Rensburg-egpaar is albei in Desember verlede jaar oorlede, slegs twee dae na mekaar. Gelukkig het mnr. Hans van Rensburg reeds sy getuienis voor die hof gelewer. Sy vrou kon weens skok nooit getuig het nie.
Moyo en Dube is skuldig bevind op al die klagte teen hulle. Hulle is gevonnis tot 15 jaar tronkstraf op die klagte van gewapende roof, asook ‘n verdere vyf jaar vir die besit van gesteelde goedere.

ADVERTISEMENT:
