

ADVERTISEMENT:

News Date: 25 April 2008
Wat presies behels belastingweerhouding? Hoe word dit toegepas? Wie kan belasting weerhou? Watter implikasies het dit vir inwoners en die munisipaliteit? Hierdie is sommige van die vrae wat ter sprake kom as mens begin praat van belastingweerhouding.
Belastingweerhouding beteken dat die persoon wat belasting aan ‘n instansie, soos die munisipaliteit, verskuldig is, dit weerhou deur dit nie oor te betaal aan die instansie nie. Dit beteken egter nie dat die belastingpligtige ophou om dit te betaal nie. Dit word net nie aan die instansie betaal nie. Die geld moet egter iewers anders inbetaal word, byvoorbeeld in ‘n trustfonds wat vir dié doel gestig is, sodat, indien die dispuut met die instansie opgelos word, dit oorbetaal kan word of alternatiewelik deur die tydelike kurator aangewend kan word om die verlangde dienste te lewer.
Die verhouding tussen inwoners van ‘n dorp en die munisipale owerheid is een van gee en neem. In ruil vir die geld wat die munisipaliteit van belastingpligtiges vorder, moet sekere dienste verskaf word. Hierdie is ‘n reg wat in die land se Grondwet verskans word. Indien een van die partye nie hierdie ooreenkoms nakom nie, kan die ander party sekere stappe neem uit protes. As belasting nie betaal word nie terwyl die dienste wel gelewer word, kan die munisipaliteit die dienste opskort. Wat nou gemaak as die situasie omgekeerd is? Tot dusver het inwoners van munisipaliteite weinig keuses gehad in hierdie verband. Daar is egter tans wette op die wetboek wat dit vir gewone inwoners moontlik maak om hierdie probleem vanuit ‘n ander hoek te benader.
Dit is hier waar die belastingbetalersvereniging (in Louis Trichardt se geval die Soutpansberg Belastingbetalersvereniging of SPBV) ‘n belangrike rol speel. Hierdie instansie kan deur sy lede getaak word om namens hulle ‘n dispuut te verklaar met die munisipaliteit. Dit word gedoen deur skrywes te rig waarin die gebrek aan dienste uitgewys en as onaanvaarbaar verklaar word. Die munisipaliteit word dan ingelig van die konsultasieprosesse tussen die betrokke vereniging en sy lede en van die moontlikheid van belastingweerhouding deur die inwoners. Indien die owerheid nie hierop ag slaan of die situasie na bevrediging verbeter nie, kan die SPBV ‘n dispuut verklaar met die munisipaliteit en hulle skriftelik daarvan in kennis stel. Indien geen positiewe reaksie hierop verkry word nie, word die belastingweerhouding in werking gestel.
Hierdie drastiese stap is heeltemal wettig en hou geen nadelige gevolge vir die weerhouder in nie. Die voorwaarde is dat alle gelde verskuldig aan die owerheid steeds betaal moet word, aangesien die weerhouding nie beteken dat die belastingpligtige van sy verantwoordelikheid onthef is nie. Veertien dorpe in die land het reeds hiermee begin en sommige, soos Carnavon, weerhou alreeds geruime tyd (twee jaar) hulle belasting. ‘n Verdere 130 dorpe is in die proses om hierdie weg te volg. In die geval van Sannieshof het die inwoners vir vier maande belasting weerhou en toe die dienste self begin onderneem.
Die implikasie vir Louis Trichardt is dat inwoners hulle belasting van die munisipale owerheid kan weerhou. Dit sal beteken dat die Raad sonder hierdie broodnodige fondse moet klaarkom. Die grootste oorweging in die besluitnemingsproses om ‘n dispuut met die owerheid te verklaar is die deelname en ondersteuning van soveel as moontlik lede van die SPBV. As dié organisasie verteenwoordigend van die inwoners wil optree, moet soveel as moontlik belastingbetalers by die organisasie aansluit en hulle steun aan so ‘n stap toesê. Daarsonder kan die SPBV nie wettiglik belasting weerhou nie.
Gesien in die lig van al die huidige probleme en gebrekkige dienslewering aan die kant van die munisipaliteit, wil dit voorkom asof belastingweerhouding die enigste oplossing gaan wees. Die SPBV het ‘n beroep gedoen op inwoners om so gou moontlik as lede van die vereniging te registreer, sodat hulle ‘n daadwerklike poging kan aanwend om tot die munisipaliteit se amptenary deur te dring en hulle te laat besef hoe ernstig die situasie is. Nie net huiseienaars kan registreer nie, maar enige persoon wat belasting betaal aan die munisipaliteit vir dienste.
Inwoners word gevra om mnr. Herman Smith, voorsitter van die SPBV, te skakel om aansoekvorms te kry. Hy kan geskakel word by tel. 0849107654

ADVERTISEMENT:
