ADVERTISEMENT:

 

Vrae oor polisie-optrede na jong vrou sterf in botsing met koedoe

 

News  Date: 02 May 2008

 

Loutrisha Pillay (20) van Louis Trichardt het Sondag, 27 April, in die vroeë oggendure tragies verongeluk nadat die bakkie waarin sy ‘n passasier was, op die Vivo/Louis Trichardt-pad teen ‘n koedoe gebots het.

Die ongeluk het omstreeks 01:00 plaasgevind, ongeveer drie kilometer oos van die Mara Polisiestasie.

Die bestuurder van die bakkie, Franco Haggland, het beserings opgedoen. Hy het hospitaalbehandeling ontvang, maar was in staat om die begrafnis op Buysdorp op Maandag, 28 April, by te woon. Die voertuig, ‘n Fiat Strada, is afgeskryf.

Sommige lede van die gemeenskap van Buysdorp, onder wie familielede van die oorledene, het hulle ongelukkigheid uitgespreek oor die manier waarop die polisie by die ongelukstoneel opgetree het. Daar is beweer dat die polisie lank geneem het om op te daag en net in die dooie koedoe belang gestel het. Die koedoe is na bewering deur lede van die polisie verwyder. Van die familielede het by die oorledene gewaak en het nie ervaar dat hulle enige bystand van die polisie gekry het nie.

"Hulle vat die koedoe en los die mense daar," is van die bewerings wat deur die hartseer gemeenskap versprei het. Die liggaam van die slagoffer is eers na halfvyf die oggend gehaal.

Volgens ‘n jongman wat ‘n ooggetuie was en ‘n paar uur by die toneel vertoef het, het die polisie sowat ‘n uur na die ongeluk opgedaag. Hy sê dat hy nie seker is wie die koedoe verwyder het nie en dat hy polisiemanne by die toneel opgemerk het. Die jongman het gepraat van drie koedoes wat oor die pad gespring het.

Mnr. Alex Smail, ondervoorsitter van die Buyskomitee, het gesê dat hy nie self op die toneel was nie, maar dat hy verneem het dat die gemeenskap uiters omgekrap is. Sy aanvanklike inligting was dat die koedoe deur die polisie weggeneem en dat die polisie nie die familie bygestaan nie. Laat Dinsdagaand het Smail met mnr. Henry Pillay, die gebroke vader van die oorledene, gepraat. Pillay was vol lof vir die bystand van die Buysmense.

"Dit gee my moed om in Buysdorp te kom bly. Buys staan vir bystand," het Pillay aan Smail gesê. Smail sê dat die vader gebroke was oor die reaksie van die nooddienste wat hy dadelik geskakel het, maar van bakboord na stuurboord verwys is.

"Ek was lus en haal self die bakkie van my dogter af," het die hartseer vader aan Smail gesê. Familielede het later aan Smail gesê dat hulle tot halfvyf op die toneel was en dat hulle toe vertrek het. Hulle het gesê dat die lykswa teen halfvyf nog nie daar was nie, maar dat die oorledene, die koedoe en die polisie nog daar was toe hulle die toneel verlaat het.

Die woordvoerder van die polisiestasie, konstabel Luruli, het bevestig dat die voertuig teen ‘n koedoe gebots het en daarna omgeslaan het en bo-op die oorledene geval het. Sy is vermoedelik opslag dood of het kort na die ongeluk beswyk. Luruli het gesê dat hy nie regtig weet wat van die koedoe geword het nie. Hy sê hy is ingelig dat die polisie die koedoe op die toneel agtergelaat het.

Die stasiebevelvoerder, Kaptein Peter Maboyi, het op sy beurt gesê dat hy nie op die toneel was nie, maar dat hy daarvan verneem het. Hy het gesê dat die korrekte prosedure is om die ongelukstoneel af te kordon en dat die polisiemanne daar diens doen totdat die nodige hulp arriveer.

Volgens sy inligting was daar vyf of ses polisiemanne wat gebly het tot die liggaam van die oorledene gehaal is.

Maboyi het verder gesê dat hy nie ‘n klag van die gemeenskap ontvang het nie.

"Ek dink die gemeenskap maak ‘n fout. Geen redelike polisieman sal vir die koedoe gaan en nie die mense help nie. Dit was ‘n ernstige ongeluk," het hy gesê. "En die koedoe is nie by die polisie nie."

Wat betref die reaksietyd van die polisie, het Maboyi gesê dat die ondersoekbeampte 20 minute ver vanaf die stasie woon.

‘n Saak van strafbare manslag is oopgemaak en word ondersoek.

Superintendent Ronel Otto van die SAPD het gesê dat wat die gemeenskap sê, bewerings is en dat bewerings eers ondersoek word.

"Indien die bewerings waar is, word daar dissiplinêr teenoor die betrokkenes opgetree," sê Otto.

Loutrisha Pillay was die enigste dogter van haar vader, Henry Pillay, van Johannesburg. Hulle het die naweek saam op Buysdorp gekuier.

"Sy het nog haar lewe voor haar gehad," het een van die familielede gesê.

 

Written by

Linda van der Westhuizen

Linda van der Westhuizen has been with Zoutnet since 2001. She has a heart for God, people and their stories. Linda believes that every person is unique and has a special story to tell. It follows logically that human interest stories is her speciality. Linda finds working with people and their leaders in the economic, educational, spiritual and political arena very rewarding. “I have a special interest in what God is doing in our town, province and nation and what He wants us to become,” says Linda.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines