

ADVERTISEMENT:

News Date: 02 May 2008
Die beoogde munisipale belasting van landbou-eiendom sal voedselpryse nog verder die hoogte laat inskiet en ‘n vernietigende uitwerking hê op die noodsaaklike voedselsekerheid in die land.
Hierdie ernstige waarskuwing is in Louis Trichardt aan die bestuurder van die Makhado Munisipaliteit gerig toe ‘n groep van sowat 40 verteenwoordigers van georganiseerde landbou Donderdag, 24 April, ‘n petisie en bundel beswaarskrifte oor die munisipale waardasie van landbou-eiendom by die burgersentrum op die dorp oorhandig het.
Die woordvoerder van die Soutpansberg Distriks Landbou-unie, mnr. Stephen Hoffman, het gesê die beoogde munisipale belasting sal beslis ‘n impak hê op voedselpryse en voedselsekerheid in Suid-Afrika as dit deurgevoer sou word. Hy sê boere is bereid om te betaal vir die lewering van dienste waaroor onderling ooreengekom is, maar kan nie bloot betalings maak sonder dat daar enige dienste gelewer word nie. Die protesskrif wat by die geleentheid oorhandig is, maak ook beswaar teen die onlangse munisipale waardasie van landbou-eiendom.
Hoffman sê boere is landsburgers wat betrokke is in ‘n bedryf wat daarop ingestel is om voldoende voedsel teen bekostigbare pryse te produseer om algemene voedselsekerheid vir die land te handhaaf. Ingevolge die huidige waardasies sal die boer wat meer ontwikkel en beter produseer meer belasting moet betaal. Dit sal noodwendig ‘n geweldige uitwerking op voedselpryse hê omdat dit daarop sal neerkom dat doeltreffende voedselproduksie gepenaliseer word.
"Ons is bereid om ‘n ooreengekome tarief te betaal vir dienste waarop ons onderling ooreenkom. Daar is dienste wat die munisipaliteit nie op plase kan lewer nie en dienste wat mense op plase self behartig. Dit is nie realisties om te verwag dat boere sal betaal vir munisipale dienste wat nie aan hulle gelewer word nie."
Die munisipale bestuurder, me. Faith Muthambi, het die protesnota en beswaarskrifbundel amptelik ontvang in ‘n byeenkoms op die parkeerterrein voor die burgersentrum op Louis Trichardt. Sy sê sy verwelkom dit dat die boere hul goeie reg uitoefen om beswaar aan te teken. Die besware is betyds binne die amptelike beswaartyd ingedien en sal sorgvuldig oorweeg word. Sy het dit in die vooruitsig gestel dat die aangeleentheid tydens ‘n opvolg ontmoeting op ‘n later datum gesamentlik bespreek kan word, sodra die dokumente deeglik nagegaan is. Sy kon nie ‘n bepaalde datum vir so ‘n ontmoeting vasstel nie, maar het onderneem om na die unie terug te kom daaroor.
Frans van der Merwe is a freelance journalist with more than 40 years experience in the newspaper industry. Apart from newspaper reporting, he was also involved with radio news, news reading, training and marketing. He has been living and working in Louis Trichardt since 1991.

ADVERTISEMENT:
