ADVERTISEMENT:

 

Minister aanvaar keerdatum vir Levubu grondeise

 

News  Date: 19 November 2004

 

LEVUBU - Die Minister van Landbou en Grondsake het die keerdatum van 31 Maart 2005 aanvaar wat deur vrywillige verkopers van plase op Levubu in ‘n resolusie voorgehou is.

Minister Thoko Didiza het op Saterdag, 13 November, ‘n besoek afgelê aan Levubu en afsonderlik met verskeie groepe vergader.

In ‘n vergadering met Levubu grondeienaars in die gemeenskapsaal is ‘n resolusie van die Laatsgevonden en Levubu vrywillige verkopers aan die minister voorgelê. Die resolusie verteenwoordig ‘n groep van meer as 70 grondeienaars.

“... die proses moet voortgaan en tot ‘n logiese en vreedsame voltooiing gebring word teen 31 Maart 2005. Die spoedige afhandeling is noodsaaklik in die lig van die geweldige styging in eiendomspryse ...” lui ‘n deel van die resolusie. Die minister en kommissie word versoek om voort te gaan met die prosessering van die aanbiedinge en ooreenkomste wat bereik is en om die uitstaande onderhandelinge te finaliseer as ‘n saak van die grootste dringendheid.

Vier jaar en sewe maande het reeds verloop sedert die proklamasie in die staatskoerant in April 2001. ‘n Groep boere het besluit om vrywillige verkopers te wees ingevolge wetgewing en na uitsprake van die grondeise hof.

In Oktober en November 2001 is die eerste groep plase gewaardeer en daarna het die stilswye op die grondeise kommissie in Polokwane toegesak.

‘n Jaar later, in 2002, het boere in die Zoutpansberger gekla dat die staat voete sleep. Kort daarna het daar ‘n bietjie momentum gekom. Meer grondeienaars het aangesluit by die aanvanklike groep op die basis van vrywillige verkopers soos wat die grondwet bepaal.

Herwaardasie van grond het in Oktober en November 2003 plaasgevind, asook gedurende in Januarie tot Maart 2004. Op 21 April vanjaar het mnr. Mashili Mokono, grondeise kommissaris van Polokwane, ontvangs erken van grondeienaars wat hulle aanbiedings aanvaar het.

‘n Paar grondeienaars het herwaardasies aangevra en op die herwaardasies, na vele omslagtighede, is weer aanbiedings gemaak tot so laat as Augustus vanjaar. Weer het daar ‘n stilte toegesak op die grondeise kommissie.

Tans is daar 54 grondeienaars wat hulle aanbiedings aanvaar het, 10 is nog in afwagting en ses van hulle het herwaardasies aangevra en die ses plase moet nog waardeer word. Tot op datum is daar nog aan geen grondeienaar op Levubu geld vir hul plase uitbetaal nie.

Tydens die vergadering op 13 November het die Minister van Landbou en Grondsake, me. Didiza, aangedui dat die proses stadig verloop, omdat die regering verkies het om die pad van onderhandeling te volg.

Die woordvoerder vir die vrywillige verkopers, mnr. Kobie Cronjé, het Dinsdag (16de) gesê dat die verbintenis van die minister tot die keerdatum van 31 Maart 2005 soos voorgehou deur die vrywillige verkopers as ‘n belangrike uitkoms van die vergadering beskou word.

“As die proses egter nie sinvol verloop tot op die keerdatum nie, sal daar van nuuts af onderhandel moet word,” sê mnr. Paul Smit (snr.) van die vrywillige verkopers.

Die afhandeling van die onderskeie prosesse is noodsaaklik, aangesien die waardasies, eise en naverkoopsooreenkomste gelyktydig aan die minister voorgelê moet word.

‘n Volledige opsomming van die gebeure vanaf 2000 is gestuur deur AgriSA, tesame met ‘n aantal vrae. Die memorandum met die vrae is aan die minister van landbou en grondsake, die direkteur-generaal van grondsake en die hoofkommissaris van grondeise gestuur. Hierdie skrywes en vrae ten opsigte van die proses en waarom grondeisers so lank moes wag, het uitgeloop op Saterdag se besoek van die minister van landbou en grondsake.

Minister Didiza het tydens haar besoek grondeienaars wat dit nog oorweeg om as vrywillige verkopers na vore te kom, genooi om hulle eiendomme ook vrywillig aan te bied aan die kommissie vir restitusie doeleindes.

Die minister het ook aan die grondeienaars wat oorweeg om nie aan die proses deel te neem nie, die roete uitgespel wat hulle moet volg. Elke grondeienaar moet individueel sy of haar saak aan die grondeisehof gaan stel. Van die grondeienaars het deeglike navorsing laat doen deur spesialiste, soos argeoloë en antropoloë. Hulle is aangemoedig om dié gegewens te gebruik en hul saak te gaan stel. Die grondeise hof kan dan moontlik in die eienaar se guns besluit. So nie, word die onteieiningsroete gevolg. Volgens me. Didiza word daar met die onteieningsroete ‘n pad van vriendskaplike onderhandeling gevolg. Die grond sal waardeer word deur ‘n staatswaardeerder en daarvolgens sal die aanbod gemaak word.

Mnr. Cronjé sê dat nog ‘n belangrike uitkoms van die vergadering is dat die minister toegegee het dat eisers self kan besluit watter groepering of maatskappye hulle wil gebruik in die naverkoopsooreenkoms.

“Tevore mag die eisers nie met iemand gepraat het sonder die teenwoordigheid van die departement nie,” sê mnr. Cronjé. Die resolusie wat oorhandig is, het duidelik melding gemaak van die outonomie van elke eisersgemeenskap en hulle vryheid van assosiasie ten opsigte van verhuurooreenkomste, gesamentlike ondernemings of vennootskappe.

Daar word sterk op mentorskappe gesteun. Maatskappye wat vir interimtye die boerdery voortsit, gaan op opleiding konsentreer. Maatskappye wat nou tender om produksie oor te neem, gaan jong kundige boere in diens neem om op ‘n groep plase die landbou volhoubaar voort te sit met opleiding aan gekeurde persone afkomstig uit eisergroepe.

 

Written by

Linda van der Westhuizen

Linda van der Westhuizen has been with Zoutnet since 2001. She has a heart for God, people and their stories. Linda believes that every person is unique and has a special story to tell. It follows logically that human interest stories is her speciality. Linda finds working with people and their leaders in the economic, educational, spiritual and political arena very rewarding. “I have a special interest in what God is doing in our town, province and nation and what He wants us to become,” says Linda.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines