ADVERTISEMENT:

 

Passasier dood, nadat polisie op verdagte voertuig skiet

 

News  Date: 09 May 2008

 

Lede van die polisie het ‘n vermeende rower na ‘n wilde jaagtog op die N1 in hegtenis geneem. Verskeie skote is in die proses geskiet en een van die voertuig se insittendes is noodlottig getref.

Op 26 April het lede van die SAPS wat op patrollie was ‘n berig ontvang dat ‘n voertuig in Siloam gesteel is. Die voertuig was vermoedelik betrokke in ‘n tref-en-trap ongeluk. Die inligting beskikbaar in daardie stadium het daarop gedui dat die voertuig waarskynlik op pad was na Louis Trichardt.

Die lede op patrollie het die genoemde voertuig, met sewe insittendes daarin, opgemerk en dit probeer voorkeer. Die bestuurder het geweier om te stop en het weggejaag. In die proses het hy verskeie stoptekens geïgnoreer terwyl hy in die rigting van Musina gejaag het. By die weegbrug het die agtervolgende beamptes probeer om die voertuig tot stilstand te dwing. Die verdagte het in die proses twee polisievoertuie beskadig.

Einde ten laaste het die polisie skote gevuur op die voertuig se bande in ‘n poging om dit tot stilstand te dwing, wat die gewenste uitwerking gehad het. Daar is toe bevind dat een van die passasiers wat agter in die voertuig gesit het, noodlottig gewond is in die skietery.

Die bestuurder van die voertuig is aangekla van bestuur onder die invloed van alkohol, roekelose en nalatige bestuur, poging tot moord en vermeende roof van ‘n voertuig. ‘n Dossier is geopen waarin die polisiebeampte wat die skote geskiet het, ondersoek word. Die ondersoek duur voort.

 

Written by

Nic Hoffmann

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines