ADVERTISEMENT:

 

Rou riool vloei uit die mangat voor mnr. Herman Smith, voorsitter van die SBBV, na die vleiland ´n paar meter aan sy regterkant. Hierdie situasie duur nou al ´n paar jaar voort en hou ´n moontlike gesondheidsrisiko in vir persone wat onlangs erwe gekoop het in die nuwe uitbreiding aangrensend tot Eltivillas indien hulle die erwe sou ontwikkel.

Ontwikkeling in rioolvlei hou gesondheidsgevaar in

 

News  Date: 09 May 2008

 

Die moontlikheid dat die nuwe ontwikkeling wat beoog word, aangrensend tot Eltivillas en waarvoor die Makhado Munisipaliteit onlangs meer as 150 erwe opgeveil het, ‘n gesondheidsramp is wat wag om te gebeur, is groot. Hierdie nuwe woongebied grens direk aan ‘n vleiland waarin duisende liters rou riool vir die afgelope paar jaar invloei.

Die pompstasie wat direk aan die vleiland grens, kan al vir geruime tyd nie die hoeveelheid riool wat daardeur vloei, hanteer nie. Die oorvloed borrel doodgewoon uit die mangat en vloei dan tot in die aangrensende vleiland, skaars ‘n paar meter vanwaar die nuwe erwe uitgesit is vir ontwikkeling. Indien hierdie situasie voortduur, en selfs al doen die munisipaliteit onmiddellik iets aan hierdie saak, stel hulle hulself bloot aan ‘n potensieel-plofbare situasie, aangesien die besoedeling al geruime tyd lank plaasvind en die water in die vleiland nie binne ‘n kort tyd gesuiwer kan word nie. Volgens kundiges neem dit ‘n lang tyd vir die natuur om veral van die chemiese en minerale stowwe in die water ontslae te raak. Daarbenewens veroorsaak menslike afval dat verskeie tipes bakterieë en mikro-organismes, wat ‘n bedreiging vir mens en dier inhou, in sulke water groei en vermeerder.

Van die skadelikste bakterieë is coliform, fekale coliform, Escherichia coliform en Enterococcus. Blootstelling aan rou riool of neweprodukte daarvan kan die volgende siektes tot gevolg hê:

*Allergiese Alveolitis, wat ontsteking van die alveoli in die longe beteken. Dit is egter redelik skaars. Simptome hiervan is koors, asemnood, droë hoes, en pyn in die spiere en gewrigte.

*Gastroenteritis, wat ontsteking van die ingewande beteken. Dit gaan gewoonlik gepaard met diarree, krampe en braking, asook koors wat deur die ontstekingsagent veroorsaak word.

*Hepatitis, wat ontsteking van die lewer beteken en veroorsaak word deur ‘n virus. In gevalle waar dit deur ‘n virus wat op menslike afval ontwikkel, veroorsaak word, kom geelsug en akute ontsteking van die lewer baie dikwels voor.

*Weil se siekte, wat gekenmerk word deur gastroenteritis, koors, ligte geelsug en ernstige, aanhoudende hoofpyn.

*‘n Asemhalingsprobleem, soos asma, wat manifesteer as asemnood, borskasbeklemming en aamborstigheid.

*Verdere moontlike gesondheidsgevare sluit noodlottige lewer-, nier- en bloedskade, asook vel- en ooginfeksies in.

Drie maniere bestaan waarop die mikro-organismes die liggaam kan binnedring. Die mees algemene manier is van hand tot mond en vind plaas wanneer mense eet, drink of rook. Besmette organismes kan ook die liggaam binnedring wanneer lugpartikels of besmette stof ingeasem word. Wanneer snye, krappe of oop wonde op die vel in kontak kom met besmette organismes, kan laasgenoemde ook toegang verkry tot die liggaam. Verder kan dit ook ingeneem word deur die oë, neus en mond.

By navraag het die munisipale woordvoerder, Mnr. Louis Bobodi, gevra vir meer tyd om op die vrae wat aan hom gestel is, aandag te gee. Sy reaksie sal waarskynlik in volgende week se uitgawe verskyn.

 

Written by

Nic Hoffmann

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines