

ADVERTISEMENT:

News Date: 16 May 2008
Heelwat meer as 100 grafte is beskadig in ‘n vlaag van grafskendings wat sedert verlede week wyd verspreid in die Vhembe-distrik gepleeg is.
Die begraafplase op Louis Trichardt, Siyandani naby Giyani en Madabani in die Sinthemule Kutama-area het deurgeloop. Honderde duisende rande se skade is aangerig en naasbestaandes het vandeesweek met skok en ontsteltenis op dié sinnelose dade gereageer.
Die polisie op Louis Trichardt, Giyani en Tshilwavhusiku stel ondersoek in en van die ontstelde naasbestaandes het ‘n beloning uitgeloof vir enigiemand wat inligting kan verstrek wat tot die aankeer van die booswigte kan lei.
Meer as 40 grafte in die Louis Trichardt begraafplaas is die afgelope naweek beskadig. Verskeie duur grafstene is vernietig, deurdat hulle nie net omgestoot is nie, maar ook stukkend gebreek is. Onder die grafte in die Louis Trichardt begraafplaas is sommiges van dié wat onlangs op dieselfde wyse beskadig en intussen ten duurste herstel is.
Dit is hoofsaaklik grafte aan die oostelike en westelike uiteindes van die begraafplaas wat in die nag deur booswigte bygekom is. Dit is duidelik die werk van meer as een persoon, aangesien sommige van die grafstene wat omgestamp is, besonder bonkig en stewig geanker was.
In die eerste twee rye aan die suidwestelike kant van die begraafplaas is altesaam 15 beskadigde grafte getel. In een ry in die nuwe gedeelte aan die oostelike kant is sewe grafte gevandaliseer.
"Watse soort skuim en mal gespuis is dit wat sulke dinge doen?" het een verontwaardigde omstander vandeesweek gevra.
Onder die beskadigde grafte in Louis Trichardt is ook dié van die bekende plaaslike sportpersoonlikheid mnr. Hans Nagel, wat in 1999 oorlede is. Die spesiaal-ontwerpte grafsteen vir die gesinsgraf is nie net omgestamp nie, maar is onherstelbaar beskadig. ‘n Ontstoke mnr. Johan (Tjorra) Nagel sê die voorval is veral vir sy moeder, mev. Petra Nagel, ‘n uiters ontstellende belewenis. Hy het ‘n beloning van R2 000 uitgeloof vir enige iemand wat inligting kan verskaf wat sal lei tot die skuldigbevinding van die boosdoeners.
Iemand wat self die pynlike ervaring beleef het van ‘n geliefde se graf wat geskend is, mev. Magriet Strydom, het die uitgebreide skade verlede Sondag bemerk toe sy die grafte van haar man Jan en van haar seun Hannes gaan besoek het. Hul grafte was dié keer gespaar. ‘n Paar jaar gelede is haar seun se graf in ‘n soortgelyke vlaag grafskendings erg beskadig. Met die oprigting van haar man se grafsteen is haar seun se grafsteen toe ook herstel. Sy sê die emosionele en finansiële las wat sulke dade vir die naasbestaandes meebring, is baie erg. Sy het Sondag opgemerk dat een van die grafte van haar vriende, dié van Snyman du Plessis, ook beskadig is. Die grafsteen is eenvoudig stukkend geslaan. Sy seun, mnr. Paul du Plessis, sê nuus van die vandalisme het groot pyn en verdriet veral vir sy moeder veroorsaak.
"Sy kon nie ophou huil toe sy daarvan hoor nie."
By die besondere monumentale graf van Wilson Ramambila, wat betreklik onlangs teen hoë koste in die nuwe gedeelte aan die oostekant van die Louis Trichardt begraafplaas voltooi is, is mnr. Victor Ramambila Maandagoggend aangetref, waar hy stil na die vernietigingswerk gestaar het by die verwoeste kopstuk, wat oor ‘n aangrensende graf se grafsteen omgestamp is en aan skerwe gebreek het. Tussen die skerwe was die geglasuurde foto van ‘n glimlaggende jong man in ‘n toga.
"Dit is my broer," het hy gesê.
Die hernieude grootskaalse beskadiging van grafte in die Louis Trichardt begraafplaas het weer vrae laat ontstaan oor die doeltreffendheid van die huidige toesig daar. Hoewel die gras en onkruid, wat ná die reënseisoen op plekke skouerhoog oor die grafte gegroei het, nou oral netjies kortgesny is, is die hope grassnysels net so gelaat op die gepoleerde grafstene en blaaie.
"Kan die permanente opsigter dan nie maar in sy opvallend baie ledige tyd met ‘n grasbesem die grassnysels van die grafte afvee nie?" is een van die vrae.
Op Siyandani is 50 grafstene erg beskadig. Die totale skade daar word beraam op nagenoeg R250 000. Volgens Superintendent Moatshe Ngoepe van die Mopani area is veral die duurste grafstene geteiken. Hy het die gemeenskap versoek om die polisie met enige tersaaklike inligting te help.
Vroeër is berig dat 40 grafstene ook in die Madabani begraafplaas beskadig is. Hoofman Vho-Mavhungu Ramabulana het verontwaardigde inwoners tot kalmte gemaan. Hy het die gemeenskap versoek om nie die reg in eie hande te neem nie, maar die polisie behulpsaam te wees met die ondersoek na die ontstellende misdaad. Een geskokte inwoner, mnr. Africa Selete, sê vier van sy familie se grafstene is erg beskadig.
"Ons het baie geld bestee om die grafstene op te rig. Ek wil hê die polisie moet die skuldiges laat boet, want baie van die lede van ons gemeenskap gebruik hul laaste geld om die grafstene op te rig."
Enigiemand met tersake inligting kan hul naaste polisiestasie kontak of 08600 10111 skakel.

ADVERTISEMENT:
