

ADVERTISEMENT:

News Date: 23 May 2008
Dit is nie seker of ‘n hooggeregshofbevel verlede week ‘n einde sal bring aan die agt-jaar-lange regstryd tussen die Emmanuel Kerk en die Emmanuel Christian School oor eienaarskap van die skool en die terrein waarop die skool, net buite Louis Trichardt, geleë is nie.
Nadat die twee partye ‘n skikking bereik het, het Regter Sapire Maandag, 12 Mei, ‘n hofbevel uitgereik en die Emmanuel Kerk se eiendomsreg oor die persele (Gedeelte 82 en Gedeelte 6 van die plaas Rondebosch) bevestig. Beide partye maak nou daarop aanspraak dat die hofbevel vir hulle ‘n oorwinning was.
‘n Woordvoerder van die Emmanuel Kerk, Pastoor Andries van Heerden, het vandeesweek gesê hulle is tevrede met die uitspraak wat sonder twyfel die gemeente se eienaarskap bevestig. Aan die ander kant sê mnr. André Naudé, regsverteenwoordiger vir die skool en die sewe ander respondente in die saak, dat die uitspraak in hulle guns tel.
Die Emmanuel Christian School is aanvanklik deur die Emmanuel Kerk begin. In 2000 het mnr. Hennie van Niekerk, die voorganger van die Emmanuel Kerk as pastoor, uit die gemeente bedank. Kort daarna het mnr. Van Niekerk, as voorsitter van die Emmanuel-skoolraad, bogenoemde twee gedeeltes van die betrokke perseel van die kerk vervreem en aanspraak gemaak op eiendomsreg daarvan. Na alle vorme van bemiddeling misluk het, het die Emmanuel Kerk hulle in 2004 na die Transvaalse Provinsiale Afdeling van die hooggeregshof gewend om hul eiendomsreg van die gedeeltes te bevestig.
"Alhoewel die skool wettiglik outonoom van die kerk funksioneer, het hulle geen aanspraak op die kerkeiendomme nie. Die kerk poog tans om met die skool ‘n werkbare ooreenkoms te verkry wat die skool se voortbestaan sal verseker en tot voordeel van die kerk as eienaar sal strek," het Van Heerden na afloop van verlede week se hofbevel gesê.
Naudé meen egter dat die skool nie nodig het om met die kerk te onderhandel nie.
"Ons het by wyse van skikking gesê hulle (die kerk) het eiendomsreg, maar dit is ‘n eiendomsreg wat niks werd is," sê Naudé. Hy het verduidelik dat die kerk in ‘n aanvanklike ooreenkoms die grond geskenk het vir die oprigting van ‘n skool en dat die skool onbeperkte besitreg van die grond sal behou solank hulle aan die doelwitte van die ooreenkoms (om ‘n bona fide skool daarop te bedryf) voldoen. Die hofbevel, volgens Naudé, beteken dus niks nie aangesien die skool steeds as ‘n bona fide skool bedryf word. Die enigste wyse waarop die kerk dus sal kan aanspraak maak op enige vorme van betaling of kompensasie is wanneer die skool nie meer aan die doelwitte van die aanvanklike ooreenkoms voldoen nie.
"Hulle (die kerk) het probeer gesag verkry oor die skool, maar dit is afgewys. Hulle het ook nie ‘n uitsettingsbevel gekry teen mnr. Van Niekerk en die ander sewe personeellede nie," het Naudé gesê. Mnr. Van Niekerk en die sewe personeellede bly in wonings op die perseel.
"Die skool het presies gekry wat hulle wou hê," het Naudé gesê.
Alhoewel Naudé meen dat die kerk geen verdere regsverweer teen die skool het nie, blyk dit of die aangeleentheid nog ver van afgehandel is. Wat die aanvanklike ooreenkoms tussen die kerk en die skool betref, sê Van Heerden dat daar nooit so ‘n ooreenkoms was waarin die kerk die eiendomme aan die skool geskenk het nie.
"Dit is die probleem. Hennie van Niekerk, en by implikasie die skool, het ons eienaarskap betwis en dit is hoekom ons hof toe is," sê Van Heerden.
Van Heerden meen die skool het geen ander keuse as om met die kerk te onderhandel om op die perseel te bly nie.
"Dit is juis nie so dat hulle nie nodig het om met ons te onderhandel nie. Hulle probeer om die status quo te behou, maar hulle kan nie op ons perseel net voortgaan om te maak wat hulle wil nie. Hulle probeer die onderhandelinge omseil," sê Van Heerden. Die kerk se regsverteenwoordiger, mnr. Sam Deysel, het Van Heerden se stelling beaam.
"Mnr. Naudé se stellings is nie korrek nie, die kerk het besluit om nie voort te gaan met die uitsetting van die individue nadat die skool hulle aanspraak op eiendomsreg laat vaar het nie. Eiendomsreg is ‘n absolute reg; die kerk het onbelemmerde eienaarskap van die persele en dus kan ‘n okkupeerder of ‘n huurder nie op daardie reg aanspraak maak nie. ‘n Eienaar het altyd die reg om ‘n okkupeerder of ‘n huurder se okkupasie te beëindig. Dus is dit in die beste belang van die skool om met die kerk as wettige eienaar van die persele te onderhandel andersins sal die kerk genoodsaak wees om sy wettige regte as eienaar uit te oefen en verdere regstappe te neem," sê Deysel.
Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

ADVERTISEMENT:
