ADVERTISEMENT:

 

Naamraad verwys naamkwessie terug na munisipaliteit

 

News  Date: 23 May 2008

 

Na besware teen die hernude poging tot verandering van die dorpsnaam Louis Trichardt, is die saak deur die provinsiale komitee van die naamsraad terugverwys na die Makhado Munisipaliteit.

‘n Skrywe van die Limpopo Provinsiale Geografiese Naamsraad lui dat daar kennis geneem is van die Voorsittervereniging (VV) se besware. Die munisipaliteit word voorts versoek om ‘n vergadering met die VV te belê om die saak verder te bespreek en tot ‘n skikking te kom voordat die aanbeveling na die LUK geneem word vir oorweging.

Die Voorsittersvereniging stel dit egter duidelik dat hulle nie die voorgenome vergadering wat die Stadsraad met hulle gaan hê, as konsultasie beskou nie.

"Ons beskou dit nie as ‘n konsultasieproses nie. Daarvoor is dit heeltemal te laat. Die Stadsraad sal van vooraf moet begin met die konsultasieproses, want hulle het reeds die mense mislei," het die voorsitter van die VV, mnr. André Naudé, Dinsdag gesê.

Die VV het op 7 Januarie besware ingedien by die Limpopo Provinsiale Geografiese Naamsraad, nadat die munisipaliteit hul aanbeveling om die dorp se naam na Makhado te verander by dieselfde raad ingedien het. Op 13 Maart vanjaar is die Voorsittersvereniging deur ‘n provinsiale komitee van die naamsraad ontbied en is daar by Marlot Gastehuis in Polokwane samesprekings gehou.

Die VV het ook gesê dat daardie samekoms nie konsultasie was nie.

"Dis baie duidelik dat die geografiese naamsraad nie die aanbeveling van die Stadsraad kan endosseer of onderskryf nie; dis hoekom hulle dit terugverwys," sê die VV.

Die munisipaliteit is deur die naamsraad tyd gegun tot 31 Mei om met die VV te gesels.

"Hulle moet hulle probleme en verskille uitstryk en as een vorentoe beweeg," het mnr. Mavhungu Musitha vandeesweek gesê. Mnr. Musitha, ‘n voormalige raadslid van die Makhado Munisipaliteit, was die naamsraad voorsitter tydens die vergadering met die VV. Voorbeelde van probleme is die klagte dat die munisipaliteit nie korrespondensie beantwoord nie, nie die VV gekonsulteer het nie en die naam Makhado steeds verskyn op naamborde en amptelike stukke. Die VV het al by herhaling gewaarsku dat dit neerkom op minagting van die hof.

Die appèlhof het in Maart verlede jaar ten gunste van die Voorsittersvereniging uitspraak gelewer dat die naam Makhado tersyde gestel moet word. Dit het gevolg ná lang, uitgerekte hofprosesse nadat die munisipaliteit die dorp se naam sonder voldoende konsultasie verander het na Makhado.

Die jongste beswaarskrif van die VV lui dat daar "geen regverdiging vir ‘n naamsverandering van Louis Trichardt na Makhado is nie". Daar word beswaar gemaak omdat die stadsraad nie eers die rolspelers gekonsulteer het of daar hoegenaamd ‘n behoefte is om die dorp se naam te verander nie. Daar is aangevoer dat die sogenaamde konsultasieproses eensydig, gemanipuleer en vol skokkende foute en oneerlikhede was. Aangeheg was wyksverslae wat aangedui het dat bussevol mense van wyk na wyk aangery is om te ‘stem’, terwyl dit konsultasievergaderings moes wees.

"Die naam Makhado is nie ‘n korreksie van die naam Louis Trichardt nie ... Louis Trichardt as naam is ook nie beledigend nie. Daarom, in terme van die standpunte en riglyne van die Nasionale Geografiese Naamsraad en in terme van internasionale riglyne, is daar geen regverdiging om die naam na Makhado te verander nie. Om die naam van Louis Trichardt na Makhado te verander, sal onredelik wees en ‘n totaal ongefundeerde afbreking van ‘n waardevolle kulturele erfenis, en dit sal die mense van die streek polariseer en nie verenig nie," het die VV verklaar.

Mnr. Musitha het telefonies gesê dat die aantyging van polarisasie een van die sake was wat die naamsraad laat besluit het om die munisipaliteit aan te sê om met die VV te vergader.

"Ons het nie vir hulle gesê watter sake hulle moet bespreek nie, maar dat ons die inhoud van hul gesprek so gou moontlik wil hê. Daarna sal ons ons aanbeveling aan die minister maak."

Op ‘n vraag wat sou gebeur as die VV en die munisipaliteit nie hulle verskille kon uitstryk nie, het Musitha gesê dat hulle dit vandaar verder sou neem.

Teen Dinsdag hierdie week kon die woordvoerder van die Makhado Munisipaliteit, mnr. Louis Bobodi, nog nie uitsluitsel gee oor die datum van die vergadering met die Voorsittersvereniging nie.

 

Written by

Linda van der Westhuizen

Linda van der Westhuizen has been with Zoutnet since 2001. She has a heart for God, people and their stories. Linda believes that every person is unique and has a special story to tell. It follows logically that human interest stories is her speciality. Linda finds working with people and their leaders in the economic, educational, spiritual and political arena very rewarding. “I have a special interest in what God is doing in our town, province and nation and what He wants us to become,” says Linda.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines