

ADVERTISEMENT:

News Date: 23 May 2008
Na aanleiding van die berig in verlede week se Zoutpansberger oor die verskille in terme van die bepaling van die waardes van eiendomme, het die voorsitter van die Soutpansberg Belastingbetalingsvereniging (SBBV), mnr. Herman Smith, meer inligting verskaf aangaande die vergadering wat gehou is met die waardeerder.
Volgens Smith is baie tekortkominge in die proses uitgewys en die vrae wat gevra is, kon nie bevredigend beantwoord word nie. Van die knelpunte wat uitgewys is, is die volgende:
Eiendomme wat so ver as vyf jaar gelede reeds verkoop is, is steeds in die voormalige eienaars se naam geregistreer. Sommige eiendomme kom ook nie op die waardasielys voor nie. Ongeveer 6 000 gewaardeerde eiendomme het geen fisiese of posadres nie. Eiendomme wat deur ‘n bank vir ongeveer R2 000 000 gewaardeer is, is deur die waardeerders vir ‘n kwart daarvan of minder gewaardeer. Ander huise in Uitbreiding 7 (Skuldbult) is vir R900 000 gewaardeer, terwyl daar plotte is wat vir tot 94% onder hulle waarde aangedui is. Geringe verskille van sowat R50 000 tussen erwe in sekere strate in Uitbreiding 1 is aangedui, wat net moontlik is as die eiendom deur ‘n waardeerder besoek is. Tot dusver kon geen persoon opgespoor word wat deur ‘n waardeerder besoek is nie. Die munisipaliteit het inteendeel verklaar dat so ‘n besoek opsioneel is en dat hulle verkies het om nie daarvan gebruik te maak nie, maar eerder van lugfoto’s en kaarte.
Verder beweer die waardeerder dat hy eiendomsagente genader het om die markwaarde van eiendomme te bepaal. Geen van die bekende eiendomsagente in die dorp kon bevestig dat hulle genader is in hierdie verband nie. Sommige van die munisipale eiendomme is gewaardeer vir R20 000. In die lig van die 152 erwe wat ‘n paar weke gelede verkoop is, waar die gemiddelde prys per erf R190 000 was, bestaan sulke goedkoop erwe nie in die dorp nie. Hoewel die munisipaliteit nie gaan belasting betaal op sy eie erwe nie, is die beginsel waarvolgens sy eie erwe so goedkoop gewaardeer word, verkeerd en immoreel. Daar is ook ‘n aantal huise wat vir sowat R250 000 gewaardeer is. Die gevaar van so ‘n onderwaardasie is dat die eienaar, indien die waardasie later in lyn gebring word met ‘n markverwante prys, terugwerkend die balans sal moet terugbetaal.
Verder berig Smith dat daar baie inwoners is wat nog nie van die waardasierol se bestaan weet en dat hulle moet appelleer indien hulle eiendom se waardasie verkeerd is nie. Die munisipaliteit het onderneem om kennisgewings saam met elektrisiteitsrekeninge uit te stuur, maar het dit tot op hede nog nie gedoen nie. Die SBBV maak beswaar teen die feit dat sommige eiendomme te laag gewaardeer is, wat sal beteken dat party inwoners ander sal subsidieer. Persone wat wil beswaar aanteken op grond daarvan dat hulle huise min of meer dieselfde is ander s’n, maar verskillend gewaardeer is, mag dit nie as rede vir appèl aanvoer nie. Die munisipaliteit mag iemand se eiendom in dieselfde omgewing wat in die afgelope tyd verkoop is, gebruik as maatstaf vir die bepaling van iemand se eiendom, al verskil die eiendomme wesenlik in terme van grootte en voorkoms. Hierdie tipe blatante ongerymdhede maak dat die SBBV nie enige geloofwaardigheid heg aan die waardasierol nie.
Nog ‘n belangrike feit is dat die sperdatum vir die aansoeke tot appèl uitgestel is tot 31 Mei 2008, sonder dat inwoners daarvan ingelig is. Weereens het die munisipaliteit onderneem om dit bekend te maak, maar nagelaat om dit te doen. Persone wie se eiendomme te hoog of te laag gewaardeer is, word aangeraai om appèl aan te teken. Indien 15% van eiendomme in die dorp verkeerd gewaardeer is, moet die waardeerder die werk oordoen. Daarvoor is daar nog ‘n jaar oor.
Boere in die omgewing beoog om te weier om eiendomsbelasting aan die munisipaliteit te betaal totdat hulle dienste kry in ruil daarvoor. Daarby wil mense nie verhoogde belastings betaal vir dienste wat steeds verswak nie. ‘n Beroep word weereens op inwoners gedoen om so gou moontlik by die SBBV te registreer, veral met die oog op die hou van ‘n openbare vergadering waar die terughou van belasting aan die munisipaliteit bespreek sal word. Soos berig in vroeëre uitgawes, sal inwoners nie ophou betaal nie, maar net die geld aan ‘n ander instansie oorbetaal vir bewaring en instandhouding. Die munisipaliteit sal maandeliks op hoogte gehou word van die inwoners wat betaal het.

ADVERTISEMENT:
