ADVERTISEMENT:

 

Juanita Voges, vertoon Juanita ´n paar van haar pragtige lapverfkunswerke.

Juanita se dryfkrag ´n inspirasie vir andere

 

News  Date: 23 May 2008

 

‘n Kosbare voorbeeld van deursettingsvermoë en berusting is Juanita Voges, wat haarself as ‘n herstellende kwadrupleeg beskryf.

Juanita (34) tref dadelik met daardie spesiale kombinasie van ‘n sterk wil om onafhanklik te wees en ‘n totale tevredenheid met wat God deur haar lewe wil bereik.

"Ek glo die Here wil my genees en kan my enige oomblik genees. Maar as ek meer vir Hom kan beteken soos ek nou is, dan sal ek dit enige tyd weer so wil doen," sê Juanita.

Dit wil nie sê dat Juanita agteroorsit nie.

"Ek het nog nooit opgehou oefen nie. Ek is baie getrou daarmee. Ek sou nie gewees het waar ek al is as dit nie vir die gereelde oefensessies was nie," sê sy.

Juanita was ‘n kranige sportvrou wat half-marathonne gehardloop het en muurbal gespeel het. Op 19 Desember 1999, toe sy 26 jaar oud was, het sy in ‘n swembad ingeduik en haar nek gebreek.

"Aan die begin was dit baie moeilik om dit te aanvaar, maar jy leer later om dit te hanteer, sê Juanita. Sy vertel van haar besoek so drie jaar terug aan die Aurora rehabilitasiesentrum in Port Elizabeth. Daar het sy geleer om baie meer selfstandig te wees.

"Ek het baie mense daar gesien wat baie erger af is. Ek is so dankbaar vir die spiere wat ek kan gebruik".

In daardie tyd het die gemeenskap van Louis Trichardt R85 000 in 28 dae ingesamel om haar by die sentrum te laat opneem.

"Haar linkerkant is al 100%," voeg haar optimistiese tuisverpleegster, Beatrice Jackson, by. Beatrice versorg Juanita al agt jaar, eers as deel van die Voges-gesin en nou waar Juanita in Loeriepark woon.

Juanita is die jongste inwoner daar en sy is gaande oor die inwoners van Loeriepark Aftree-oord se ondersteuning. "Hulle moedig my so aan as ek oefen om met ‘n loopraam te loop. Ek kan nie op ‘n beter plek bly nie," sê sy.

‘n Span van vier verpleegsters versorg Juanita om die beurt.

Intussen het die lapverfgogga Juanita nou behoorlik gebyt.

"Anette van Rooyen het met die voorstel van die lapverf gekom. Dit is soos terapie en ek geniet dit verskriklik. Ek kry nou glad bestellings," sê Juanita, wat pragtige helderkleurige tafeldoeke, muurbehangsels, kussingslope en skinkbordlappies maak. Almal wat Vrydagmiddae by Juanita inloer, word deel van die vrolike verfgroep.

Op ‘n vraag of sy daarvan sal hou om deel te wees van ‘n groep gestremde mense wat bymekaarkom, sê Juanita dat dit vir haar om’t ewe is met wie sy kuier. Sy ondervind soms dat "normale" mense nie weet hoe om op te tree teenoor ‘n fisies-getremde persoon nie.

"Hulle sal jou op en af kyk, en daar’s niks fout met jou nie, behalwe liggaamlik," sê Juanita.

Vir Juanita is dit belangrik om die lewe dag vir dag te neem.

"Dit is vir my ‘n fantastiese ervaring om net elke dag my oë te kan oopmaak. ‘n Mens het jou terugslae, maar die Here stuur niks oor jou pad wat jy nie kan hanteer nie. Niemand of niks sal jou ooit die berusting gee wat die Here kan gee nie," sê Juanita. Sy praat ook van al die mense wat haar wonderlik ondersteun en noem spesiaal haar sussie, Marcia Potgieter, se naam. Juanita sê haar leuse is " Do your best and God will do the rest."

 

Written by

Linda van der Westhuizen

Linda van der Westhuizen has been with Zoutnet since 2001. She has a heart for God, people and their stories. Linda believes that every person is unique and has a special story to tell. It follows logically that human interest stories is her speciality. Linda finds working with people and their leaders in the economic, educational, spiritual and political arena very rewarding. “I have a special interest in what God is doing in our town, province and nation and what He wants us to become,” says Linda.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines