ADVERTISEMENT:

 

Ma kry groot skrik in winkelsentrum

 

News  Date: 23 May 2008

 

Kinders se veiligheid is altyd van die grootse belang vir ouers en alle ouers vrees vir die dag wat hul kinders moontlik ontvoer of enige leed aangedoen word.

So ‘n vreesaanjaende insident het onlangs in die Makhado Crossing sentrum afgespeel toe ‘n onbekende man na bewering ‘n vierjarige dogtertjie aan die hand gegryp het, terwyl haar ma met ‘n kennis in die kompleks gestaan en gesels het.

Omstanders het gesien wat gebeur en op die man geskreeu. Die man het dadelik weggehardloop, met die ma van die kind kort op sy hakke. Die man het in Shoe City ingehardloop, waar hy gekonfronteer is.

Die sekuriteitswagte is ingeroep en die man is uitgevra.

Volgens die man het hy slegs teen die kind se arm geskuur in die verbygaan en het hy geen bybedoelings gehad nie. Die sekuritietswagte het die man laat gaan en gesê dat daar nie ‘n probleem was nie.

In daardie stadium was die ma van die kind reeds baie ontsteld oor die hele gebeurtenis en kon sy nie glo dat dit slegs ‘n onskuldige insident was soos wat die vreemde man beweer het nie. Sy wou weet waarom die man weggehardloop het as dit ‘n blote misverstand was. Hy kon verduidelik het en om verskoning gevra het, in plaas daarvan om op die vlug te slaan.

Die Zoutpansberger het die saak opgevolg met die sentrum se bestuurder, me. Ané Schoeman. Sy het onderneem om spoedig terugvoer te lewer en het ‘n vergadering met die sekuritietsmaatskappy belê.

Uit vrees dat die sekuriteitsbeamptes moontlike ontvoerders net sou laat wegloop indien hulle aangekeer word, het die sekuriteitsmaatskappy mense van Johannesburg af laat kom, sodat daar deur beeldmateriaal van die veiligheidskameras gegaan kon word om te sien wat werklik gebeur het.

Met die nagaan van die beeldmateriaal is die gebeurtenis gesien. Die video het bewys dat die vreemde man wel nie doelbewus die kind gegryp het nie en dat die ouer se vrese ongegrond was.

Dit wys weereens daarop dat ouers paraat moet wees wat die veiligheid van hulle kinders by inkopiesentra betref. Geen ouer kan dié verantwoordelikheid aan sekuriteitswagte oorlaat nie.

Die Makhado Crossing Sentrum beloof ‘n veilige inkopie omgewing en doen so ver moontlik hul woord gestand. Indien die situasie anders was, sou daar bewyse gewees het om sulke boosdoeners vinnig vas te keer of selfs die videomateriaal teen hulle in ‘n strafregtelike aksie te gebruik.

 

Written by

Riaan de Swardt

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines