ADVERTISEMENT:

 

Vergadering oor onteiening laat meer vrae

 

News  Date: 30 May 2008

 

Vrae bestaan rondom die regering se motiewe met die reël en hantering van die konsultasievergadering wat plaasgevind het rondom die voorgestelde wet op die onteiening van eiendomme by die Louis Trichardt Skouterrein op Maandag, 26 Mei.

Die eerste vraag wentel rondom die manier waarop rolspelers en die media ingelig is oor die vergadering. Meeste belanghebbendes, insluitend die Zoutpansberger, is verlede Vrydagmiddag na sluitingstyd per faks ingelig van die vergadering Maandag om 10:00. Daarbenewens het belanghebbende partye, soos boere van Musina en die Tshipise-omgewing, geen kennis gekry van die vergadering nie en het dit gevolglik nie bygewoon nie.

Verder is die feit dat vrae wat gevra is by die vergadering nie beantwoord is nie, ‘n groot bron van ontevredenheid. Die eerste vrae is om 11:00 gestel, en teen 13:00 is nog geen bevredigende antwoorde ontvang nie. Die gevolg was dat van die ontevrede lede van die gehoor uitgestap het. Nog meer kommerwekkend is dat die voorsitter van die vergadering die feit dat meeste van die ontevredenes blankes was, gebruik het om politieke munt uit die situasie te slaan. Sy het aangedui dat dit geïnterpreteer word dat die blankes ‘n negatiewe houding het en nie wil saamwerk nie en teen die proses gekant is. Van die "uitlopers" het aangedui dat hulle nie langer kon bly nie, aangesien hulle moes terugkeer werk toe. Ander het aangedui dat hulle geloop het omdat hulle vrae nie beantwoord is nie.

Volgens mnr. Jacques Smalle, DA-raadslid van die Makhado Munisipaliteit, is die mees verontrustende aspek van die wetsontwerp dat die regstelsel uit die proses uitgehaal word. Volgens die wetsontwerp kan die betrokke minister ‘n waardebepaling doen en dan besluit hoe die eienaar van die vervreemde grond vergoed word. Indien die eienaar dan wil beswaar aanteken, kan die persoon hom/haar egter nie na die hof wend as onpartydige arbiter nie. Die hele proses word dan eensydig en die eienaar word van sy grondwetlike reg op die besit van eiendom ontneem. Op die vergadering is teenstrydige aspekte wat in die wetsontwerp voorkom, uitgelig, maar geen duidelikheid rondom hierdie aspekte kon verkry word nie. Smalle het ook aangedui dat hy die voorsitter van die vergadering se uitspraak rondom die blankes se sogenaamde negatiwiteit jeens die proses as onnodig en onvanpas ervaar het.

 

Written by

Nic Hoffmann

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines