

ADVERTISEMENT:

News Date: 30 May 2008
"Ek dink ek weet nou ook hoe die boere in Zimbabwe voel," het mnr. Barries Grobler van die plaas Tweefontein naby Louis Trichardt vandeesweek gesê, nadat skade van nagenoeg R100 000 in afsonderlike strooptogte binne die bestek van drie dae op die plaas aangerig is. Duur toerusting is afgebreek en vernietig om skrootmetaal te bekom.
‘n Strategiese spilpunt, wat onontbeerlik was vir die welslae van sy sonneblomoes, is in ‘n kritieke groeistadium in die strooptogte vernietig, deurdat die motore, ratkaste en kabel afgebreek en gesteel is. Die afsonderlike motors is stukkend geslaan en die verkoopbare skrootmetaal verwyder.
In ‘n daaropvolgende strooptog is 250m elektriese kabel by die Grootklip ontspanningsoord op die plaas gesteel. ‘n Stoorkamer by die oord het later ook deurgeloop.
"Terwyl ek later onder op die landerye ondersoek ingestel het na die skade aan die res van die besproeiingstoerusting, hoor ek hoe hulle op ‘n ander plek op die plaas besig is om die bome af te kap vir brandhout. Die gevoel van totale magtelose frustrasie oor vernietigende onreg wat net nie ophou nie het my onwillekeurig laat dink aan die situasie van die boere in ons buurstaat."
Grobler sê die strooptogte word onderneem vanaf die aangrensende natuurbewaringsarea, waar die stropers al vir hulle permanente bamboesskerms opgerig het vanwaar hulle hul strooptogte uitvoer. Hulle keer ook daarheen terug om die kabels te brand om die koper te bekom."
Hy sê hy het die situasie al verskeie kere op hoë vlak onder die aandag van die polisie en van Omgewingsake gebring, maar niks daadwerkliks het gebeur nie. Die situasie duur ongestoord voort. Van die vier bondels skoongebrande koperkabel wat die polisie vir hul ondersoek van die plaas af verwyder het, sê Grobler, het uiteindelik net twee weer teruggekom.
Grobler sê die stropers kom stel gereeld strikke in die veld op sy plaas en vernietig die bome om brandhout te bekom. Hy sê Omgewingsake is oënskynlik nie toegerus om doeltreffend teen hierdie soort misdaad te kan optree.
Frans van der Merwe is a freelance journalist with more than 40 years experience in the newspaper industry. Apart from newspaper reporting, he was also involved with radio news, news reading, training and marketing. He has been living and working in Louis Trichardt since 1991.

ADVERTISEMENT:
