ADVERTISEMENT:

 

Polisiebeamptes besig met hul ondersoek op die toneel van die skietvoorval. In die foto is verskeie koeelgate sigbaar in die voertuig waarin mev. Rudzani Ramano doodgeskiet is by die Louis Trichardt poli-siestasie.

Inspekteur skiet vrou by polisiestasie

 

News  Date: 06 June 2008

 

‘n Polisie-inspekteur het vroeg Donderdagoggend, 29 Mei, in ‘n woedebui sy vervreemde vrou koelbloedig doodgeskiet, nadat dié, in ‘n poging om van hom te vlug, by die polisiestasie op Louis Trichardt gaan skuiling soek het.

Die voorval het omstreeks 07:00 plaasgevind. Een polisiebeampte het kort na die voorval vertel dat hulle besig was om parade te staan, toe hulle skielik iets gehoor het soos planke wat val. Gou het hulle egter besef dit is skote.

Die polisie-inspekteur, insp. Freddy Mashamba (43) van die Bandolierkop SAPD, het sy vrou, die 30-jarige mev. Rudzani Ramano, in ‘n wilde jaagtog tot by die polisiestasie agterna gesit. Ramano se tannie, wat die voertuig bestuur het, het by die parkeerarea agter die aanklagkantoor by die polisiestasie ingejaag. Mashamba het agter hulle gestop en met sy dienspistool in die hand uitgespring. Kort daarna het hy op sy vervreemde vrou losgebrand. Die tannie het op die vlug geslaan.

Volgens die polisie is Ramano tussen tien en veertien keer in die kop, bolyf en rug getref waar sy in die passasiersitplek gesit het. Sy is op slag dood. Daar was een rondte in Mashamba se pistool oor. Hy het daarna sy dienspistool aan ‘n kollega oorhandig en hy is in hegtenis geneem.

Die polisie is steeds onseker wat die rede was vir Mashamba se woede-uitbarsting. Volgens inligting was die egpaar egter in ‘n bitter egskeiding betrokke wat op die punt was om afgehandel te word.

Mashamba het Vrydag vlugtig in die landdroshof op Louis Trichardt verskyn. Sy saak is uitgestel na Woensdag vandeesweek vir ‘n borgaansoek. Tydens sy verskyning Woensdag is sy saak egter verder uitgestel na 16 Julie.

Die plaaslike polisiewoordvoerder het in die lig van Donderdag se voorval lede van die publiek en polisielede met huweliksprobleme versoek om professionele hulp te soek, eerder as om iemand dood te maak. Hy sê op die oog af het dit nie voorgekom dat Mashamba probleme gehad het nie.

 

Written by

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines