

ADVERTISEMENT:

News Date: 13 June 2008
"Ek wonder of almal in Louis Trichardt besef watter wonderlike werk die Rotariërs in ons dorp doen. Wat hul diens so uitsonderlik maak, is die gesindheid van liefde en vriendelikheid. Hulle gee werklik om," sê me. Jackie van Nieuwenhuizen, dienswerker by Laat Lente en Herfsakker.
Sy het vandeesweek Maandag gepraat by die oorhandiging van ‘n rolstoel aan ‘n inwoner van Laat Lente, Tannie Sannie Bronkhorst. Die rolstoel is oorhandig deur die huidige voorsitter van die plaaslike Rotariërs, mnr. Schalk Grobbelaar.
Tannie Sannie het ‘n jaar gelede ‘n knie-vervanging gehad. Uit die staanspoor was daar egter komplikasies en ná etlike terugkere na die hospitaal vir opvolg-sjirurgie en behandeling vir sepsis, het die finale terugslag gekom: Sy sou nooit weer daardie knie kon gebruik nie. Sy sou voortaan met behulp van ‘n rolstoel oor die weg moes kom. Haar mediese fonds was egter in daardie stadium reeds uitgeput en sy kon nie ‘n rolstoel bekostig nie.
Jackie, wat gemoeid is met die gesondheidsorg van die inwoner van Laat Lente en Herfsakker op Louis Trichardt, het vir Schalk genader. Toe hy Tant Sannie se verhaal hoor, het hy onmiddellik oorgegaan tot aksie en die volgende dag reeds by Laat Lente opgedaag met ‘n splinternuwe rolstoel. Daar was trane van ongeloof en dankbaarheid.
Terwyl hulle besig was om die nuwe rolstoel uit te toets, het Tant Sannie se seun saam met ‘n vriend daar opgedaag. Die seun kon nie uit die voertuig klim nie, omdat sy rolstoel buite werking was. Toe Schalk verneem dat die seun al jare lank van ‘n rolstoel afhanklik is as gevolg van ernstige bloedsomloop probleme, het hy by die voertuig met hom gaan gesels. Hy is egter ‘n buitengewone groot man en die Rotariërs beskik nie oor sulke groot rolstoele nie. Schalk het egter onderneem om die saak aan die res van sy lede voor te lê, om vas te stel of hulle kan help.
Maandag met die oorhandiging van Tant Sannie se rolstoel was mede-Rotariërs Poog Henning en sy seun Carl saam met Schalk. Hulle het ‘n vrag avokados vir die inwoners van Laat Lente en Herfsakker gebring.
Die inwoners sê: "Baie Dankie!"
Frans van der Merwe is a freelance journalist with more than 40 years experience in the newspaper industry. Apart from newspaper reporting, he was also involved with radio news, news reading, training and marketing. He has been living and working in Louis Trichardt since 1991.

ADVERTISEMENT:
