

ADVERTISEMENT:

News Date: 20 June 2008
‘n Koedoe was verlede week Donderdag (12de) weereens die oorsaak van ‘n noodlottige ongeluk waarin twee inwoners gesterf het en drie ander beseer is.
Die ongeluk het Donderdag omstreeks 21:15 op die N1/Braambos-pad plaasgevind. Die bakkie waarin mnr. José Fernades (45), ‘n sakeman van Louis Trichardt, op reis was het ‘n koedoe getref, waarna dit buite beheer geraak het en volgens die polisie tromp-op met ‘n aankomende voertuig gebots het. Mnr. Fernandes, asook die bestuurder van die ander voertuig, die 26-jarige mej. Janice Harding van Braambos, is op die toneel dood. Mej. Harding se ma, broer en ‘n vriend van haar ma was saam met haar in die voertuig en is beseer. Mev. Harding is later opgeneem in die privaat hospitaal in Polokwane en teen druktyd is haar toestand as stabiel beskryf.
Die ongeluk waarin mnr. Fernandes en mej. Harding gesterf het, was een van vier ongelukke die afgelope twee en ‘n half maande wat deur rondloperdiere en wild op die streek se paaie veroorsaak is. Op 27 April sterf die 20-jarige Loutrisha Pillay nadat die voertuig waarin sy en ‘n vriend gery het met ‘n koedoe gebots het op die Louis Trichardt/Vivo-pad. Slegs drie dae later volg die skoknuus dat nog ‘n jong inwoner, die 21-jarige Stephen Goosen, gesterf het nadat hy met ‘n rondloperbees gebots het op dieselfde pad waarop mnr. Fernandes en mej. Harding gesterf het. Sowat drie weke gelede, op 3 Junie, ontkom plaaslike besigheidsman, mnr. Johan Gilfillan ternouernood aan die dood, nadat hy in ‘n trop rondloperbeeste vasgejaag het, dié keer weer op die Louis Trichardt/Vivo-pad. Al die ongelukke het gedurende die aand plaasgevind.
Na aanleiding van bogenoemde vlaag ongelukke het mnr. Tiny Sinden van die Departement Omgewingsake op Louis Trichardt gesê dat motoriste veral gedurende die kouer wintermaande ekstra versigtig moet bestuur wanneer hulle na-uurs op die pad is. Hy het verduidelik dat wild veral gedurende hierdie maande na die padreserwes gelok word op soek na weiding. Weiding dieper die veld in raak al minder, terwyl heelwat gras en blare dikwels nog in die padreserwes beskikbaar is.
"Wanneer dit reën, vloei die water vanaf die paaie en vergader in die padreserwe wat daartoe bydra dat dié areas langer groen bly," sê Sinden.
Wat rondloperbeeste betref, sê Sinden dat dit telkens gebeur dat hierdie beeste in die pad gaan lê en slaap gedurende die aand.
"In die dag absorbeer die swart teerpad hitte en in die aand straal dit die hitte uit. Die beeste gaan lê dan op die pad op soek na hierdie hitte," verduidelik Sinden.
Rondloperbeeste, veral in landelike gebiede, is ‘n probleem wat aan die toeneem blyk te wees. Volgens wet, sê Sinden, moet alle beeste gebrandmerk word. Dit is wetgewing wat deur die polisie toegepas moet word. Indien iemand dan in so ‘n gemerkte bees vasry, kan die eienaar van die bees ‘n siviele eis in die gesig staar. Die verkeersfadeling op hulle beurt is verantwoordelik vir die verwydering van rondloperbeeste en ander mak diere soos donkies. Baie lesers sal sekerlik nog die ongeluk onthou waarin 17 mense hul lewens verloor het in Februarie 2007 toe die bestuurder van een van twee busse uitgeswaai het vir ‘n rondloperdonkie op die Tshikowi/Rabali-pad in die Nzhelele area. Rondloperdiere soos hierdie moet onmiddellik by òf die polisie òf die verkeersafdeling gerapporteer word.
Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

ADVERTISEMENT:
