ADVERTISEMENT:

 

Alhoewel dit nie amptelik erken word nie, glimlag Lizette Joubert steeds breed na haar volmaakte kolhou by die Drankensig Gholfbaan op 11 Junie.

Lizette trots op kolhou, maar dit tel niks

 

News  Date: 20 June 2008

 

Ai, verbeel jou jy vermag iets wat baie mense net hul hele lewe lank oor kan droom, maar dan is niemand daar saam met jou om die oomblik mee te deel nie. Erger nog, jou prestasie word nie erken nie.

Dit is presies wat met vlieënier Lizette Joubert van Louis Trichardt gebeur het. Lizette vlieg kliënte die hele wêreld vol. Op 11 Junie het sy ‘n bestuurslid van P&L Hardeware op Louis Trichardt na Hoedspruit gevlieg vir ‘n vergadering.

"Ek het geweet ek gaan die hele dag vir hom moes wag en het besluit om my gholfstokke in te pak," vertel Lizette.

Op Hoedspruit geland, is Lizette sommer direk na die Drakensig Gholfbaan toe om ‘n paar balle rond te slaan. Dit was nog vroegoggend en daar was niemand anders op die baan nie. By die sewende putjie aangekom het Lizette sommer haar drie hout uitgehaal vir die 146m dryf na die setperk. Die putjie (Stroke 14) het ‘n baansyfer van drie.

"Die putjie is maklik, maar nie die maklikste nie. Ek het geweet ek moet my bal laag hou. Reg voor my was ‘n yslike maroelaboom. Ek het ‘n lekker hou geslaan en gesien hoe die balletjie links om die boom seil en op die setperk val," sê Lizette.

Die opgewondenheid het Lizette begin beetvat toe sy sien hoe die balletjie rol en rol – reguit binne die gaatjie in.

"Toe ek sien die balletjie val in die gaatjie, het ek dadelik op my telefoon gespring. Ek moes dit net met iemand deel!"

Lizette sê sy het vir haar vriendin, Marina Stoop geskakel. Sy was egter teleurgesteld om te hoor dat haar volmaakte kolhou nie amptelik herken gaan word nie, omdat dat nie in ‘n kompetisie behaal is nie. Ten spyte hiervan het Lizette die daaropvolgende week steeds oorgeborrel van opgewondenheid.

"Dit was vir my so ‘n spesiale oomblik – ek moes dit met almal deel," sê Lizette.

 

Written by

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines