ADVERTISEMENT:

 

Seun, een van die mees unieke honde in die wereld, by die houer met mensbloed wat hy uitgesnuffel het. Hy is een van minder as 15 honde in die wereld wat mensbloed en semen kan uitsnuffel en verleen hulp in gevalle van gewelds-misdade soos moord, verkragting en skietvoorvalle.

Unieke polisiehond besoek Louis Trichardt

 

News  Date: 20 June 2008

 

Louis Trichardt was onlangs bevoorreg om besoek te ontvang van een van die uniekste honde ter wêreld. Hy is een van minder as 15 wat in staat is om menslike bloed van ander tipes bloed te onderskei en word deur die polisie ingespan om te help met die oplos van misdaad, veral geweldsmisdade soos moord, verkragting, skietvoorvalle en nog meer.

Volgens Seun se hanteerder was almal aanvanklik baie skepties oor die moontlikheid dat ‘n hond geleer kan word om te onderskei tussen verskillende soorte bloed. Daarbenewens was die verdere opdrag dat die hond ook menslike semen moet kan uitken. Dit was veral met die oog daarop om hulp te verleen in geval van verkragtings, waar die nodige forensiese toerusting nie altyd beskikbaar is nie.

Anders as in die geval van ander polisiehonde, soos dié wat plofstowwe en dwelms uitsnuffel, moet hierdie honde kleiner wees, sodat hulle oral kan inkruip, soos byvoorbeeld in motors of klein spasies waar liggame soms deur misdadigers ingedruk word. Daarom word Skotse skaaphonde (border collies) gebruik. Hulle is hoogs intelligente honde, wat uiters toegewyd is.

‘n Verdere verskil tussen dié honde en ander snuffelhonde is dat hulle beloon word vir hulle goeie werk deur die hanteerder wat vir die hond ‘n bal gooi om te gaan haal. Die honde ervaar dus nie soveel stres soos die ander snuffelhonde nie en kan vir langer tye diens doen. Daarteenoor kan ‘n snuffelhond wat plotstof uitruik, net vir sowat 15 minute aaneen gebruik word, waarna dit vir ongeveer ‘n uur moet ontspan. ‘n Ander hond moet dan oorneem in sy plek.

Vir die eerste drie weke van die hond se opleiding speel hy en sy hanteerder net met die bal. Waar ‘n ander snuffelhond na drie maande aktief moet kan diens doen, neem dit ses maande vir hierdie honde om hulle opleiding te voltooi. So ‘n hond het sy eie magsnommer en daar word baie goed na hulle gekyk. Ná ‘n dienstydperk van tussen 12 en 15 jaar tree die hond uit diens uit.

Met hierdie deurbraak in die opleiding van snuffelhonde neem Suid-Afrika die leiding in hierdie veld wêreldwyd. Lande soos Brittanje en die VSA kom hier kers opsteek en baie hanteerders glo dit eers as hulle sien hoe hierdie honde hulle werk doen. Hopelik sal van hierdie honde vanjaar by die SABC Northern Gateway Skou te sien wees.

 

Written by

Nic Hoffmann

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines