

ADVERTISEMENT:

News Date: 27 June 2008
Totale chaos! Dit is hoe inwoners deesdae die N1-kruising na Eltivillas uit Rissikstraat op Louis Trichardt beskryf.
Na maande se klagtes oor die swak toestand van die dorp se paaie het die Makhado Munisipaliteit besluit om te begin met die herstel en, in hierdie geval, die totale herbou van sekere strate. Dit het tot gevolg gehad dat die toegangspad na Eltivillas ‘n paar weke gelede in sy geheel gesluit moes word. Baie was verheug oor die feit dat daar uiteindelik begin is met die verbetering van die dorp se swak infrakstruktuur, maar vreugde het vinnig plek gemaak vir frustrasie en ongeloof.
Deesdae is die kruising, veral oor spitstye, ‘n nagmerrie vir motoriste, met talle inwoners wat prontuit sê hulle probeer die kruising ten alle koste vermy. Die oorsaak van die chaotiese toestand word toegeskryf aan swak beplanning vanaf die munisipaliteit se kant, gebrekkige verkeerstekens en die afwesigheid van verkeersbeamptes oor spitstye om te help om die verkeer te reguleer.
‘n Ompad is sommer so deur die veld aangrensend tot die bestaande kruising gemaak, waarna twee skaars-sigbare stoptekens op die N1 aangebring is om motoriste te waarsku.
Diegene wat wel die stoptekens raaksien, stop selde.
"Dit herinner aan tonele van spitsverkeer op die verafgeleë grondpaadjies van dorpies in ons buurlande – ‘n vry-vir-almal, wilde gejaag met elke bestuurder wat glo hy kan eerste ry," het inwoner mnr. Bruce Murray opgemerk. Hy meen die huidige situasie hou ‘n groter gevaar in vir padveiligheid as die boomlaning langs die N1 in die berg wat tans vernietig word aangesien dit, volgens die Nasionale Padagentskap, ‘n gevaar vir motoriste inhou. Verder wil hy graag weet waarom die munisipaliteit nog nie hul weg kon oopsien om verkeersbeheer by die kruising aan te bring nie?
Dat die munisipaliteit al ‘n geruime tyd bewus is van die chaos is Dinsdag deur munisipale woordvoerder mnr. Louis Bobodi beaam.
"Ons is bewus van die probleme en het ook al baie klagtes vanaf die publiek ontvang, ook oor die ontoereikende verkeerstekens. Ons kan onsself gelukkig ag dat daar nog nie ‘n ongeluk by die kruising was nie," het Bobodi gesê. Hy sê hulle besef die dringendheid van ‘n oplossing vir die probleem so spoedig moontlik.
"Ons wag net vir die maatskappy wat die teerwerk doen. Alhoewel ons Vrydag met hulle vergader, is dit ons veronderstelling dat hulle reeds Woensdag sou begin het met die teer van die pad," het Bobodi gesê. Hy wou hom nie uitlaat oor gerugte dat daar probleme met die kontrak of kontrakteur is.
"Ek is nie bewus van enige probleme nie, maar sal by die verantwoordelike persone gaan uitvind," het Bobodi gesê. Hy kon geen aanduiding gee wanneer die toestand by die kruising na normaal sal terugkeer nie, behalwe dat dit binne die volgende paar weke sal wees.
Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

ADVERTISEMENT:
